Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Orie bly hy baklei in WP se hoek
Marvin Orie in aksie in ’n Stormers-oefensessie. Foto: Gallo Images

Gegewe die vorige krapperigheid tussen Marvin Orie en spelers van die Westelike Provinsie is dit dalk moeilik om te glo, maar dié Springbok-slot sê sy hart klop warm in Kaapstad.

Delf ’n mens ’n bietjie dieper, is dit heel te verstane. Orie, ’n produk van die Hoërskool Tygerberg, het sy skolerugby in die Kaap gespeel en reeds op o.13-vlak die WP se beroemde streeptrui gedra.

“Dis ongelooflik om terug te wees,” sê Orie, wat ná skool na die Blou Bulle is en daarna vir die Goue Leeus gespeel het voor sy terugkeer na die Kaap.

“Daar’s vir my baie trots in hierdie trui. In jou lewe en loopbaan is daar oomblikke wat jy nooit sal vergeet nie. Die eerste in my loopbaan was toe ek die streeptrui as 13-jarige oor my kop getrek het. Ek het dieselfde gevoel gekry toe ek vir die Springbokke gespeel het.

“Toe ek vier weke gelede die eerste keer vir die Stormers speel, het ek my o.13-trui by my ma se huis in Belhar gaan haal om saam met my te dra. So hierdie is ’n streek wat my baie na aan die hart lê.”

Toe ek vier weke gelede die eerste keer vir die Stormers speel, het ek my o.13-trui by my ma se huis in Belhar gaan haal om saam met my te dra. So hierdie is ’n streek wat my baie na aan die hart lê.
Marvin Orie

Orie (28) is ’n aggressiewe slot en was vroeër in sy loopbaan ongewild onder WP-spelers. Van daardie emosie het voortgespruit uit ’n voorval in ’n destydse o.21-wedstryd waar hy vir JD Schickerling, nou ’n spanmaat, in ’n kopklem beetgekry het. Schickerling se nek was waarskynlik toe reeds gebreek nadat Irne Herbst hom met sy skouer teen die kop getref het.

Maar dit was in 2014 en dis vir die Streeptruie lekker om Orie nou in húl hoek te hê.

JD Schickerling

Daar word veral gehoop dat hy sy stem in die lynstane sal dik maak, maar daar gaan in die komende weke baie mededinging op slot wees met Salmaan Moerat, Schickerling en David Meihuizen wat almal in die beginspan wil rank.

“Een van die redes waarom ek hierheen wou kom, is die sterk groep wat die Stormers het. Ek ken baie van die spelers danksy die ouderdomsvlakke waar ons saam gespeel het,” sê hy.

“Ek ken vir Rito (Hlungwani, die voorspelerafrigter) ook al lank. Albei van ons is op die lynstane ingestel, so ons het mekaar vinnig gevind. Ons het baie ontledings gedoen en planne in die mou gevoer, so hopelik maak ons hierdie naweek ’n goeie begin!”

Indien Orie in Saterdag se Reënboogbeker-wedstryd teen die Haaie in die Kaapstad-stadion die Stormers se nr.5-trui dra, sal hy hom teen ’n voormalige Bulle-spanmaat, Reniel Hugo, meet.

Ek het deur die jare teen van die Haaie-spelers gespeel en ook saam met Reniel by die Bulle.
Marvin Orie

“Ek het deur die jare teen van die Haaie-spelers gespeel en ook saam met Reniel by die Bulle,” sê hy.

“Ons het goed voorberei, ons ontledings gedoen en die afgelope week baie goed geoefen, so ons is opgewonde en sien uit na die uitdaging wat hierdie naweek op ons wag.”

Meer oor:  Marvin Orie  |  Kaapstad  |  Belhar  |  Reenboogbeker-Reeks  |  Haaie  |  Stormers  |  Slot  |  Springbok  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.