Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus se Bok-slot Orie reis wyd vir rugby
Marvin Orie in aksie vir die Leeus in vanjaar se Superrugbyreeks.Foto: Gallo Images

Dit beloof om ’n dol naweek vir die Springbokslot Marvin Orie te wees. Tog is dit die holderstebolder skedule waarop hy sal floreer.

Die 26-jarige oud-Kapenaar wat verlede Saterdag sy tweede verskyning in die Groen en Goud van die Springbokke gemaak het, speel Saterdag op Nuweland vir die Leeus in hul Curriebeker-wedstryd teen die Westelike Provinsie, waarna hy Sondag ’n vlug Auckland, Nieu-Seeland toe sal haal om hom daar by die Springbokke aan te sluit vir hul oefenkamp in Kiwiland.

“Dit gaan baie besig wees, maar dit is die soort ding waarvoor jy rugby speel,” het Orie vandeesweek gesê.

Volgens hom sou hy Saterdag reeds vertrek het om hom by die Bokke aan te sluit, maar die uitvoerende hoof van die Leeus, Rudolf Straeuli, het die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, gevra of hy eers vir die Leeus kan speel en dan Nieu-Seeland toe reis.

Ek is baie bly om die wedstrydoefening te kan kry. Ek is uitgehonger om in ’n wedstryd te kan speel.
Marvin Orie

“Ek is baie bly om die wedstrydoefening te kan kry,” het Orie gesê, wat buiten die tien minute wat hy as plaasvervanger in die toets teen die Wallabies op Ellispark gespeel het, bykans twee maande laas in die Leeus se laaste Superwedstryd teen die Bulle speelkans gekry het.

“Ek is uitgehonger om in ’n wedstryd te kan speel,” erken hy.

Orie het ook insig gegee oor die spesiale atmosfeer wat daar in die Springbok-kamp heers.

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, Woensdag by die Springbokke se oefening op Loftus Versfeld in Pretoria.

“Die afrigter (Erasmus) speel oop kaarte met almal en jy weet presies waar jy staan. Hy het ons goed ingelig wie betrokke gaan wees by hierdie toetse teen die Wallabies en die All Blacks en wat hy beplan met die voorbereiding.

“Jy hoef dus nie te wonder wat aangaan nie. Die gevoel tussen die spelers is iets besonders. Almal besef watter voorreg dit is om in die groep te wees en ons weet ons moet ons kant bring.

“Die dissipline is goed en almal werk hard aan dieselfde doelwitte,” vertel Orie.

Hy sê hy is slaggereed om ’n volle 80 minute teen die WP op Nuweland te kan lewer.

“Almal weet hoe moeilik dit op Nuweland kan wees vir ’n besoekende speler. Teen die WP gaan dit amper soos ’n toets voel.

“By die Leeus is ons geseënd met jong spelers en al is ek ook maar nog jonk, is ek eintlik soos ’n veteraan in die span.

“Daar is baie energie in die span en al wat ons moet vind, is die regte balans,” sê hy.

Wat sy nuwe slotmaat, Ruben Schoeman, betref, sê Orie hy ken hom nie eintlik nie, maar hulle het vandeesweek lekker in die oefeninge saamgewerk.

“Hy is groot en sterk en het nog verlede jaar by die Suidwestelike-Distrikte se Arende gespeel. Ek glo ons sal goed kombineer,” sê Orie.

Meer oor:  Sydney  |  Kaapstad  |  Johannesburg  |  Leeus  |  Springbokke  |  Slot  |  Reis  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.