Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Os nederig oor inhuldiging in Heldesaal

Die voormalige Springbok-stut Os du Randt is een van ses rugbylegendes wat vanjaar by Wêreldrugby se Heldesaal ingehuldig gaan word.

Os du Randt met die Wêreldbeker in 2007 by die Curriebeker-eindstryd tussen die Vrystaat-Cheetahs en die Goue Leeus in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Du Randt, Suid-Afrika se enigste dubbele Wêreldbeker-wenner, sal saam met die Nieu-Seelanders Richie McCaw en Graham Henry, die Japanner Shiggy Konno, die Samoaan Peter Fataialofo en Diego Ormaechea van Uruguay ingehuldig word, het Wêreldrugby in ’n verklaring gesê.

Dié ses rugbylegendes sal op 3 November, die dag ná die Wêreldbeker-eindstryd, by Wêreldrugby se prysuitdelingseremonie in Tokio vereer word.

Fatialofa en Konno sal postuum ingehuldig word.

Die Heldesaal is in 2006 begin en het saam met Du Randt-hulle se groep nou 148 legendes vereer.

“Dis ’n baie groot voorreg om in die Heldesaal ingehuldig te word. Dis erkenning vir al jou harde werk en die opofferings wat gemaak is. Dis ’n ongelooflike voorreg,” het Du Randt Vrydag gesê.

Hy sê geen sportman- of vrou verwag so iets nie en dit is nie hoekom ’n mens aan sport deelneem nie.

Om op so ’n manier vereer te word, dink ek bly altyd spesiaal en ek is baie trots daarop.
Os du Randt

“Ek dink ’n ou probeer maar die beste doen wat jy kan onder die omstandighede en miskien ’n geleentheid wat ’n ou hier en daar kry om op die hoogste vlak te kan deelneem.

“Maar, om op so ’n manier vereer te word, dink ek bly altyd spesiaal en ek is baie trots daarop. Om die erkenning van Wêreldrugby te kry maak selfs nog meer spesiaal, want dit is dan nie net jy en jou familie nie, maar ’n bevestiging van reg oor die wêreld en dit is nogal belangrik,” het die nederige Du Randt gesê.

Bill Beaumont, Wêreldrugby se voorsitter, sê die rugbywêreld wil hierdie individue erkenning gee en huldig vir hul uitsonderlike bydrae tot rugby.

Mark Alexander, die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het Du Randt Vrydagoggend in ’n verklaring gelukgewens. Alexander sê Du Randt was een van die beste Bokke ooit.

Du Randt is in 1997 as die Suid-Afrikaanse Rugbyspeler van die Jaar vereer. In 2004 was hy die Spelers se Speler van die Jaar.

Rassie Erasmus, die Bok-afrigter en voormalige spanmaat van Du Randt, sê hulle het die eerste keer ontmoet toe hulle albei net skool verlaat het.

“Ons was in dieselfde bataljon in die weermag en die ongelooflike ding van Os is dat hy nie eens ’n bietjie verander het oor die jare nie, ondanks al die ongelooflike goed wat hy al bereik het,” sê Erasmus.

“Ons het saamgespeel by die Bokke, Cheetahs en Cats, ek het hom afgerig toe hy teruggekeer het ná sy uittrede. As daar een legende in Suid-Afrikaanse rugby is, is dit hy. Wat hy bereik het, is eenvoudig ongelooflik.”

Meer oor:  Bokke  |  Heldesaal  |  Os Du Randt  |  Springbokke  |  Wêreldrugby  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.