Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-All Black betaal R40 000 p.m. vir dwelms

’n Voormalige All Black, wat lid was van Nieu-Seeland se triomfantlike Wêreldbeker-groep in 2011, het in ’n openhartige onderhoud met ’n vrouetydskrif vertel van sy duur dwelmverslawing en hoe hy selfmoordgedagtes gehad het.

Zac Guildford vroeër vanjaar in ’n semi-beroepswedstryd vir die streek East Coast teen Mid-Canterbury in aksie. Foto: Getty Images

Die voormalige vleuel Zac Guildford was eens een van die blinkste jong sterre in Kiwi-rugby, maar sy dwelmprobleme en depressie het sy loopbaan verongeluk.

Die 30-jarige Guildford het aan Woman’s Day in Nieu-Seeland vertel dat hy vroeër vanjaar sy rug op die Franse klubspan Nevers gekeer en na sy tuisdorp, Hamilton, teruggekeer het vanweë sy geestesiekteprobleme.

“Ek het gedog ek sal my beroepsloopbaan daar kan laat herleef en al die dinge wat ek in die verlede verkeerd gedoen het regstel, maar die druk was te veel. Ek het selfmoordgedagtes begin kry. Ek het geweet as ek nie terugkeer na my tuisland en geliefdes nie, sou ek nie meer hier gewees het nie,” het Guildford aan die tydskrif gesê.

Nadat hy tussen 2008 en 2014 vir die Hurricanes, Crusaders en All Blacks uitgedraf het, het Guildford sy loopbaan in 2015 by die Franse Top14-span Clermont voortgesit.

Hy het voor dít gereeld die nuus om verkeerde redes gehaal weens ’n drankprobleem. Maar by Clermont het dinge vererger en het hy ’n dwelmverslawing ontwikkel.

Guildford sê sy verslawing het hom naderhand sowat R10 000 per week gekos. Hy is later met kokaïen betrap en die klub het sy kontrak opgeskort.

Zac Guildford (regs), Israel Dagg (links) en Cory Jane met die Webb Ellis-trofee wat die All Blacks in 2011 verower het. Foto: Getty Images

Volgens Guildford was drank en dwelms pleisters vir sy depressie en ander probleme, wat begin het toe sy pa, Robert, in 2009 aan ’n hartaanval in die paviljoen dood is terwyl hy sy seun in die o.20-Wêreldtoernooi-eindstryd in Tokio dopgehou het. Sy pa was net 44 jaar oud en volgens Guildford het hy nooit dié trauma behoorlik verwerk nie.

Ná Guildford deur Clermont die deur gewys is, het hy vlugtig vir die Waratahs in 2016 gespeel voordat hy einde 2018 onsuksesvol sy beroepsloopbaan in Frankryk weer op dreef probeer kry het.

Guildford speel sedert sy terugkeer na Nieu-Seeland klub- en semi-beroepsrugby in Hamilton en is ’n assistent vir onderwysers wat kinders met intellektuele gestremdhede help.

Hy het 11 toetse vir die All Blacks gespeel tussen 2009 en 2011 en ses drieë gedruk. 

– Sportredaksie, nowtolove.co.nz, nzherald.co.nz

Meer oor:  Dwelms  |  Verbode Middels  |  Zac Guildford  |  Toetsrugby  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.