Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Olivier sê Powell-hulle verdien lof

Een van die redes hoekom Amerika so gedug in sewesrugby is omdat die land baie geld in dié sport pomp omdat dit ’n sportsoort op die Olimpiese Spele is.

Jacques Olivier op die aanval tydens 2000 se sewestoernooi in Durban. Foto: Gallo Images

Dit is die mening van Jacques Olivier, die eerste kaptein van die Blitsbokke wat aan Wêreldrugby se eerste sewesreeks in 1999 deelgeneem het.

“Dit gaan maar oor die geld. Vir Amerika is dit belangrik om by die Olimpiese Spele goed te vertoon, so hulle fokus op goed soos sewesrugby,” sê Olivier.

Dié 50-jarige boorling van Pretoria was natuurlik ook ’n bekende in vyftienman-rugby, wat vir Noord-Transvaal en die Bulle op vleuel uitgedraf het.

“Ek dink nie die spel (sewes) het baie verander nie, maar die spelers se kondisionering is natuurlik aansienlik beter.

“Daar is ook deesdae ’n baie groter publisiteit by sewesrugby. In ons tyd het hulle net hier en daar ’n wedstryd op televisie uitgesaai,” sê Olivier.

Hy het in 1993 die eerste keer vir die Suid-Afrikaanse sewesspan gespeel en ook die Springbokke in 17 toetse tussen 1992 en 1996 verteenwoordig.

Later was ek al tussen 80 en biltong, toe hou hulle steeds aan om my te kies.
Jacques Olivier

Sy Bok-loopbaan was al iets van die verlede toe hy in 1999 met die Blitsbokke se kapteinskap toevertrou is.

“Hulle het seker nie ander spelers gehad nie, want hulle het my aanhou kies,” sê Olivier, tong in die kies.

“Later was ek al tussen 80 en biltong, toe hou hulle steeds aan om my te kies.”

Hoewel die Blitsbokke, wat die naweek aan die toernooi in Vancouver deelneem, deesdae onder kritiek deurloop oor hul spelpeil, het Olivier tog ’n pluimpie vir hulle.

“Ek dink die ouens doen goed en Neil (Powell, afrigter) is verseker die suksesvolste breier wat die span nog gehad het.

Jacques Olivier soos wat ondersteuners van die Blou Bulle hom geken het. Bal onder die arm op pad doellyn toe. Foto: Gallo Images

“Ek sê dit met respek aan ons breiers van destyds, maar ons was maar grootoog met daardie eerste toernooi, omdat die sport nog in sy beginjare was.

“Ons het nie mooi geweet wat om te verwag nie. In daardie eerste toernooi, nadat ek die eerste keer geduik is, het dit gevoel of ek in die knieë geskiet is,” sê Olivier, wat steeds in Pretoria woon en in die boubedryf werksaam is.

Suid-Afrika het daardie eerste seisoen vyfde klaargemaak, met Nieu-Seeland wat die eerste titel gewen het. Amerika, wat tans die voorloper op die puntelys is, het geen punte daardie seisoen ingesamel nie en 18de klaargemaak.

Hy sê die kritici wat daarop wys dat die Blitsbok-spelers fisiek te klein is om met ander spanne mee te ding, het dalk ’n punt beet.

“Grootte sal altyd saakmaak. As jy ’n speler het wat 70 kg weeg en die 100 m in 10 sekondes hardloop en een het wat 100 kg weeg en dit ook in 10 sekondes hardloop, watter een sal jy kies?”

Die Blitsbokke skop hul veldtog Saterdagaand (SA tyd) in Kanada teen Chili (22:05) af. Hulle kom Sondagoggend (SA tyd) teen Wallis (00:50) en Amerika (04:45) in die groepwedstryde te staan. Al die wedstryde word regstreeks op SuperSport 1 uitgesaai.

Meer oor:  Vancouver  |  Kanada  |  Sewesrugby  |  Springbokke  |  Blitsbokke  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.