Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Bok Bosch vol lof vir Pollard

Handré Pollard is die hoeksteen waarop die Springbokke besig is om hul herlewing in wêreldrugby te bou.

Handré Pollard tydens ’n Springbok-oefening in Cardiff. Foto: Gallo Images

Dit is die mening van die voormalige Springbok-losskakel Gerald Bosch.

Bosch, wat reeds 20 jaar in Australië woon, het Donderdag by die Ellispark-museum in Johannesburg gepraat, waar hy die eerste keer in dekades weer van sy voormalige Springbok- en Transvaal-spanmaats gesien het.

“Ek glo eerlikwaar Rassie (Erasmus, Bok-breier) sal die Bokke weer onder die voorste drie spanne in Wêreldrugby laat tel, veral in die Wêreldbekertoernooi,” sê Bosch, wat Suid-Afrika tussen 1974 en 1976 in nege toetse, waaronder ’n reekssege oor die All Blacks, verteenwoordig het.

“Daar word gepraat oor Australië, Wallis . . . maar Ierland is die gevaarspan. Die All Blacks is . . . wel, die All Blacks.

“Ek glo dit kan ’n bedekte seën vir die Bokke wees om in dieselfde groep as die All Blacks geloot te word in die Wêreldbeker, want dan kan hulle Nieu-Seeland eers weer in die eindstryd aantref.”

Pollard se teenwoordigheid in die nr. 10-trui is die groot rede vir Bosch se optimisme.

Die beste spanne in die wêreld, en jy kan teruggaan in die geskiedenisboeke, word gebou rondom jou nr. 9 en nr. 10. Hulle is die spilpunt waarom jou span draai.
Gerald Bosch

“Die beste spanne in die wêreld, en jy kan teruggaan in die geskiedenisboeke, word gebou rondom jou nr. 9 en nr. 10.

“Hulle is die spilpunt waarom jou span draai,” sê Bosch, wat ’n gedugte kombinasie met die skrumskakel Paul Bayvel gevorm het.

Gerald Bosch Donderdag in die Ellispark-rugbymuseum. Agter hom staan Kevin de Klerk. Bosch het een van sy Bok-truie wat in dié museum hang, geteken. Foto: Deon Raath

“Suid-Afrika het ’n baie goeie losskakel, laat ek vir jou sê. Die skrumskakel (Faf de Klerk) is nie sleg nie, maar Pollard is ’n baie goeie speler.

“Jy bou jou span rondom daardie ouens en dit is waarom die Bokke goed vaar. Die Wallabies het nie ’n goeie losskakel nie en dit is waarom hulle sukkel.

“Die All Blacks het soveel goeie losskakels, dit is waarom hulle so goed is.”

Hy glo voorts die huidige Bok-span word op verdienste gekies en hulle staan daarom ’n goeie kans om Wallis Saterdag in Cardiff te klop.

“Daar word baie gepraat oor die kwotastelsel, maar ek glo Rassie kies spelers wie se spelpeil goed is. As jy nie goed speel nie, gaan jy nie speel nie.”

* Bosch het Donderdag een van sy ou Springbok-truie in die museum geteken. Hy het ook vir Swys Joubert, aan wie die oorgrote meerderheid van die stukke in die museum behoort, gesê hy sal sy heel eerste Bok-trui aan die museum skenk.

Bosch het ook truie van die voormalige Bok-kaptein Jean de Villiers en die voormalige All Black-senter Ma’a Nonu wat hy aan die museum wil gee.

Meer oor:  Handre Pollard  |  Suid-Afrika  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.