Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Albert Heenop gesels met Hannes Strydom
Oud-Bok sake-man wat nie 'n dag ‘werk’
Wat het geword van...

24 jaar gelede het dié sagmoedige reus Suid-Afrika gehelp om rugby se Wêreldbeker te wen.

En selfs al kon Hannes Stry­dom gekies het om ’n professionele speler te wees, wou hy as apteker werk. “Daar is ’n gesegde wat lui as ’n mens lief is vir die werk wat jy doen, sal jy nie weer ’n enkele dag ‘werk’ nie,” sê die 54-jarige oud-Bokslot.

“Ek is ’n bietjie van ’n werkolis, maar ’n mens put soveel vreugde daaruit om mense te sien gesond word. En dis ’n wonderlike uitdaging om ’n apteker te wees.”

Hannes Strydom, ’n lid van die Springbok-span wat in 1995 die Webb Ellis-trofee gewen het, in een van sy apteke in Pretoria. Foto: deon raath

Hy besit nie minder nie as tien apteke in die Johannesburg-Pretoria-omgewing, asook ’n farmaseutiese groothandelsmaatskappy en ’n bande-en-uitlaatstelsel-onderneming. Hy is ook in die eiendomsmark betrokke.

Oor die apteekbelange sê hy: “Dis ’n gekompliseerde en dinamiese bedryf, nie net omdat jy met mense se gesondheid te doen het nie, maar ook omdat jy sit met rakke vol produkte wat leef. Daar is vervaldatums en gedurigdeur nuwe medikasie waarmee ’n apteker moet rekening hou. Dus moet ’n mens voortdurend jou vinger op die pols van die bedryf hou.”

Sy kinders, Hannes jr. (21) en Lucy (19), studeer aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Annalie (26) is besig met haar internskap as mediese dokter in die Paarl.

“Ek het hulle egter nooit gedruk nie; dit was absoluut hul eie besluit en hulle leef hul drome uit. Ek is verder in die gelukkige posisie dat ek ondernemings opbou en sodoende vir hulle ’n toekoms help bewerkstellig, en dit maak ’n groot verskil.

“Die kinders is al drie goed gebalanseerd,” sê Strydom.

Sy dogters het albei SA Skole-kleure in netbal verwerf. Lucy het al in haar eerste jaar die NWU se Varsitybeker-netbalspan gehaal. “Hannes is meer van ’n kultuurmens, en was onderhoofseun (koor) by Affies.”

Madiba hang Strydom se WB-medalje om sy nek.Foto: gallo images

Maar Strydom gaan deur ’n moeilike tyd. “Dit is met hartseer dat ek moet sê ek en Nikolie het ná 29 jaar se huwelikslewe besluit om op ons eie paadjies te gaan en te skei,” het hy aan Rapport bekend gemaak.

“Ons is nog goeie vriende en dit was ’n voorreg om vir 29 jaar met haar getroud te kon wees. Ek is oneindig lief vir Nikolie en my drie wonderlike kinders . . .

“Ons is ’n baie hegte gesin en sal altyd een wees.”

Dié gebore Vrystater het in 1983 in sy matriekjaar aan die Hoërskool Pearson in Port Elizabeth saam met die SA Skolespan na Wallis getoer. (Die skool se A-veld is intussen na hom vernoem.)

As 19-jarige het hy, nog nat agter die ore, sy senior provinsiale debuut vir die Oostelike Provinsie gemaak.

“Ek moes saam met hardebaarde soos ‘Boelie’ Serfontein (die Springbok-senter Jan Serfontein se pa), Andrew Patterson, Andrew Johnson en Robert Blignaut, asook die Springbokke Danie Gerber en Garth Wright speel, en hulle het my behoorlik met die hand grootgemaak.

“Klubrugby in die Oos-Kaap was in daardie stadium waarskynlik die hardste in die land en ons jonger ouens is lekker geboelie; ek is meer as een keer uitgeslaan op die veld. Ek is egter glad nie spyt nie; dit het my taf gemaak . . .”

Tydens sy diensplig het hy vir Noord-Transvaal gespeel en in die vroeë 1990’s by die Goue Leeus uitgekom. Daar het Stry­dom vir Kitch Christie ontmoet.

“Ek het baie goeie afrigters gehad, van menere Wepener en Adlam op laerskool tot Japie Visser, my eerstespan-afrigter by Pearson, en almal het ’n invloed gehad. Die grootste invloed was egter dié van Kitch.

“Hy was nie soseer ’n kenner van rugby nie as wat hy ’n kenner van mense was. Hy het presies geweet hoe om ’n mens te motiveer.”

Ek is beslis heelwat meer op my hoede as voorheen; ek kyk meer om my rond en hou nie sommer laataand by ’n rooi verkeerslig stil nie.
Hannes Strydom

Dit was ook Christie wat 1995 se Bok-wenspan afgerig het.

“Die hele 1995-veldtog, met ons leuse van ‘One Team, One Country’, het die mense van die land saamgetrek as ’n eenheid,” sê Strydom. “Ek loop vandag nog mense raak wat presies kan onthou waar en by wie hulle die eindstryd daardie dag gekyk het. Dit het ’n ongelooflike impak gehad.”

Vyf jaar gelede het hy ’n skedelbreuk in ’n kapingspoging opgedoen.

Strydom het egter verbete teruggeveg en geskree: “God help my! God help my!” Daarop het die kapers gevlug.

“Dis maar die lewe in Suid-Afrika; sulke goed kan gebeur.

“So, ’n mens pas maar aan by die omstandighede. Ek is beslis heelwat meer op my hoede as voorheen; ek kyk meer om my rond en hou nie sommer laataand by ’n rooi verkeerslig stil nie.

“Maar, ja, dit was ’n erge voorval en dis net deur die genade van Bo dat ek daardeur kon kom; die Pappa daarbo het na my gekyk. Ek lewe baie na aan my God . . .”

Meer oor:  Hannes Stry­Dom  |  Oud-Springbok  |  Sakeman  |  Werk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.