Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Bok opgewonde oor sy 3de tuiskoms

Die besluit om ná ses seisoene in Frankryk na Suid-Afrika terug te keer was ’n gewigtige een, maar daar was nooit twyfel oor sy laaste rugbytuiste nie, sê die voormalige Bok-slot Juandré Kruger.

Juandré Kruger rank in ’n lynstaan vir sy voormalige Franse klub, Toulon. Foto: Getty Images

“Dit sou altyd die Bulle gewees het. Dit is die derde keer wat ek by die Bulle aansluit, so daar is nie veel twyfel oor waar my hart lê nie.

“Dit is ’n geweldige voorreg. Coach Pote (Human) was in 2008 een van my eerste afrigters by die Bulle en ek en Pine (Pienaar) kom ook al ’n lang pad.”

Kruger het in 2013 verras toe hy – nadat hy die vorige seisoen sy internasionale buiging gemaak het – besluit het om Pretoria vir Parys te verruil en vir Racing 92 te gaan speel.

Hy het later daardie seisoen sy 17de en laaste toets vir die Springbokke gespeel en daarna was dit oënskynlik ’n geval van uit die oog, uit die hart.

Ses seisoene later en Kruger is terug by Loftus om die leemte te vul wat die Bulle se Bok-slotte Lood de Jager, RG Snyman en Jason Jenkins laat.

“Ek het al so twee of drie sessies saam met die span gehad en dit is opwindende tye.

“Toe ek die kontrak onderteken het, het ek geweet dit kom met ’n groot verantwoordelikheid.

“Ek gaan verantwoordbaar gehou word en ek sal graag my ervaring met die jong spelers wil deel.”

Kruger, deesdae ’n 34-jarige veteraan, sê hy is nie spyt oor sy rugbypaadjie die afgelope ses jaar nie.

“In 2012 het ek en Eben (Etzebeth) op die voorgrond getree, maar Heyneke (Meyer) het later besluit om meer ervare spelers soos Victor Matfield en Bakkies Botha terug te bring.

“Dit was in ’n stadium wat ek nie nee kon sê vir die geleenthede in Europa nie.

“Ek het in Frankryk in kampioenspanne gespeel en wonderlike spelers soos Dan Carter, Johnny Sexton, Ma’a Nonu en Juan Smith was van my spanmaats.

“Ek het ’n ongelooflike tyd in Frankryk gehad. Ek kan vlot Frans praat en ek en my gesin het Franse paspoorte.

“Jy weet nooit waar jou volgende kontrak vandaan kom nie en ek is bevoorreg om die nuwe uitdaging by die Bulle te kry.

“Ek wil die volgende twee jaar alles vir die unie gee en dan sal ek en my vrou weer oor ons toekoms besluit.”

Kruger verwag dat dit ’n aanpassing sal wees om volgende jaar weer Superrugby te speel.

“Ja, ek is dalk ’n bietjie ouer sedert ek laas in die kompetisie gespeel het. Gelukkig was ek nog altyd ’n meer beweeglike slot.

“Van die rugby in die Noordelike Halfrond is vinnig en die intensiteit hoog, veral in die somer.

“Dit sal my beslis uitdaag. Selfs iets soos hoe die skeidsregters deesdae blaas (in die Superreeks), sal ’n aanpassing wees.”

Kruger sê hy het al geleer dat groot name in ’n span nie sukses waarborg nie.

“Jy moet samehorigheid kry en dit sal belangrik wees vir die Bulle volgende jaar. Ek hoop en is vol vertroue dat my derde tuiskoms hier die beste een sal wees.”

Meer oor:  Juandré Kruger  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.