Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Bul brand om vir Engelse te speel
Jono Ross in aksie vir die Sale Sharks.

Dis vir Jono Ross ’n groter motivering om toetsrugby vir Engeland te speel, as om in die Engelse toetstrui teen die Springbokke te speel.

Eddie Jones het dié oud-Tukkie nie die week in Engeland se toergroep vir Junie se drie toetse in Suid-Afrika ingesluit nie. Hy is wel vir ’n Engelse groep van 31 spelers gekies wat volgende week in Brighton onder Jones se afrigting vir 27 Mei se feeswedstryd teen die Barbarians op Twickenham begin slyp.

“Ek is uiteraard teleurgestel dat ek nie die toerspan gehaal het nie, maar ek is terselfdertyd dankbaar en voel bevoorreg dat ek tog in die ander vergrote Engelse groep ingesluit is,” het Ross aan Rapport gesê.

Ek het nooit gedink ek sal eendag toetsrugby speel nie. Ek het myself nooit werklik as ’n toetsspeler beskou nie.
Jono Ross

“Ek het nooit gedink ek sal eendag toetsrugby speel nie. Ek het myself nooit werklik as ’n toetsspeler beskou nie. Ek hoop nou om tydens die oefenkamp in Brighton my aanspraak te versterk. ’n Mens weet nooit wat met beserings kan gebeur nie.

“Dit dien nie vir my as aanmoediging om teen die Bokke te speel nie, maar eerder om toetsrugby vir Engeland te speel. Ek wil nou graag ’n toetsspeler word.”

Die 27-jarige Ross was in 2013 as ’n oudleerling van St. Stithians die Blou Bulle se eerste Engelssprekende Curriebeker-kaptein. Hy het hom ’n jaar later by Stade Français aangesluit. As ’n spanmaat van Morné Steyn, Willem Alberts en Craig Burden het Ross-hulle hul Franse klubspan gehelp om die gesogte Top14-titel in 2015 te wen, asook die Uitdaagbeker.

Faf de Klerk in aksie vir die Sale Sharks teen Wasps in Engeland se Premierliga. Foto: Getty Images

Hy het ná drie jaar by Stade Français besluit dis tyd vir verandering en het einde verlede jaar ’n driejaarkontrak gesluit met Sale Sharks waar hy en Faf de Klerk spanmaats is.

“Ek het my rugby in Frankryk baie geniet. Ek het die Franse kultuur omhels.

“Ek het nie spesifiek na Sale geskuif om eendag toetsrugby te speel nie. Dit was wel in my agterkop – soos dit maar byvoorbeeld vir enige Bul-speler is om vir die Bokke te speel – dat ek vanweë my ouma (Betty Hicks van Essex) kwalifiseer om vir Engeland te speel.

“Ek het nie doelbewus grootskaalse veranderinge aan my spel gemaak sedert ek by die Bulle weg is nie. Ek is nou miskien meer ervare as toe. Onthou ek was maar 22 jaar oud toe ek die Bulle se kaptein was. Ek het sedertdien dalk ook fisiek ontwikkel.

“Iets wat bevorderlik vir my rugby en selfvertroue hier by Sale is en by Stade Français was, is dat die afrigters jou aanmoedig om jou eie spel te speel. Hulle gee jou vryheid.

“Hulle wil jou sterk punte tot voordeel van die span gebruik. Dít het my selfvertroue baie gehelp. Toe ek by die Bulle was, was my selfvertroue maar laag gewees.”

Ross, wat ’n groot gedeelte van die Engelse rugbyskrywers die afgelope tyd gaande het met sy fisieke spel, werkverrigting en vermoë as ’n baldraer, meen daar is ’n groot verskil tussen die Top14-liga en die Engelse Premierliga.

“Die Top14-liga is stadiger. Hulle fokus daar miskien meer op die vaste fasette. Dis steeds rugby van ’n hoogstaande gehalte.

Die rugby in die Premierliga is baie vinniger. Dit vergelyk vir my goed met Superrugby. Ek moes my fiksheid baie verbeter het sedert ek by Sale aangekom het.
Jono Ross

“Die rugby in die Premierliga is baie vinniger. Dit vergelyk vir my goed met Superrugby. Dis vinniger rugby. Ek moes my fiksheid baie verbeter het sedert ek by Sale aangekom het. Ek geniet my rugby egter ongelooflik baie in Engeland.”

Nog ’n Suid-Afrikaner, die Junior Bok Nick Schonert (Worcester Warriors, vaskopstut), is saam met Ross opgeneem in die Engelse groep vir die stryd teen die Baabaas. Sy landgenoot Mike Rhodes (Saracens, flank) kwalifiseer eers in Julie om deur Engeland oorweeg te word.

Die Bokke en Engeland is op 2 November op Twickenham ’n vierde keer vanjaar slaags. Rhodes sal mik om sy toetsbuiging dan te maak.

Jones het verras toe hy nie die oud-Ikey Don Armand in sy toergroep ingesluit het nie. Armand, wat sy rugby vir Exeter Chiefs speel, was vroeër by Engeland se Sesnasie-veldtog betrokke.

Engeland speel in drie toetse teen die Bokke - in Johannesburg op 9 Junie, Bloemfontein op 16 Junie en Kaapstad op 23 Junie.

Die Engelse toergroep is:

Agterspelers: Mike Brown (Harlequins), Elliot Daly (Wasps), Nathan Earle (Saracens), Jonny May (Leicester Tigers), Denny Solomona (Sale Sharks), Danny Cipriani (Wasps), Owen Farrell (Saracens, kapt.), George Ford (Leicester Tigers), Alex Lozowski (Saracens), Cameron Redpath (Sale Sharks), Dan Robson (Wasps), Henry Slade (Exeter Chiefs), Ben Spencer (Saracens), Ben Te’o (Worcester Warriors), Ben Youngs (Leicester Tigers).

Voorspelers: Tom Curry (Sale Sharks), Ben Earl (Saracens), Jonny Hill (Exeter Chiefs), Nick Isiekwe (Saracens), Maro Itoje (Saracens), Joe Launchbury (Wasps), Chris Robshaw (Harlequins), Brad Shields (Hurricanes/Wasps), Sam Simmonds (Exeter Chiefs), Billy Vunipola (Saracens), Jack Willis (Wasps), Mark Wilson (Newcastle), Luke Cowan-Dickie (Exeter Chiefs), Ellis Genge (Leicester Tigers), Jamie George (Saracens), Joe Marler (Harlequins), Kyle Sinckler (Harlequins), Mako Vunipola (Saracens), Harry Williams (Exeter Chiefs).


Meer oor:  Eddie Jones  |  Engeland  |  Sale Sharks  |  Rugby  |  Toer  |  Bulle  |  Premierliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.