
Jacques du Plessis in aksie vir sy Franse klubspan Montpellier. Foto: Getty Images
’n Voormalige losvoorspeler van die Bulle, Jacques du Plessis, kan straks in die afsienbare toekoms vir Frankryk toetsrugby speel nadat Fabien Galthié, nuwe afrigter van die Hane, glo voelers na hom uitgesteek het.
In Frankryk berig lequipe.fr dat Galthié die afgelope week die Franse klubspan Montpellier besoek het, waar hy onder andere met Du Plessis gesels het.
Die 26-jarige Du Plessis, ’n boorling van Pongola, is ewe tuis op slot as in die lostrio. Hy het die Suid-Afrikaanse Skolespan in 2011 en die Junior Bokke in 2013 verteenwoordig.
Hy het vir die Bulle gespeel, voordat hy in 2015 sy heil in Frankryk gaan soek het. In 2018 was daar sprake dat hy na die Bulle wou terugkeer, omdat hy graag ’n Springbok wou word.
Hy het vir die Bulle gespeel, voordat hy in 2015 sy heil in Frankryk gaan soek het. In 2018 was daar sprake dat hy na die Bulle wou terugkeer, omdat hy graag ’n Springbok wou word.
Du Plessis het reeds as jongeling aandag getrek en was in 2014 deel van ’n Bok-oefenkamp.
Met die 33-jarige Springbok-agtsteman Duane Vermeulen wie se loopbaan straks einde se kant toe staan, sal dit Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, straks loon om ook met Du Plessis te praat.
Dit is nie ’n nuutjie dat die Hane Suid-Afrikaners vir hul toetsspan oorweeg nie. Die slot Paul Willemse het vanjaar sy toetsbuiging vir die Hane gemaak en daar was in die onlangse verlede ook spelers soos Bernard le Roux (flank), Rory Kockott (skrumskakel) en Scott Spedding (heelagter), om maar net enkeles te noem. – Sportredaksie