
Paul Botes in 2013. Hy is vroeër dié week aan hartversaking dood. Foto: Deaan Vivier
Paul Botes was ’n wonderlike spanman met ongelooflike talent.
So het Johan Heunis, voormalige Springbok-heelagter van die destydse Noord-Transvaal, sy oudspanmaat beskryf.
Botes (58) is die afgelope week aan hartversaking dood.
Hy het van 1984 tot 1989 in 47 wedstryde vir die Ligbloues heelagter en vleuel gespeel.
Botes was ook ’n lid van die Noord-Transvaalse span wat in 1985 in die Curriebeker-eindstryd teen die Westelike Provinsie verloor het.
Botes het in dieselfde era as Heunis en Gerbrand Grobler om ’n plek in die span meegeding.
“Hy sou beslis baie meer wedstryde (vir Noord-Transvaal) gespeel het. Paul was veelsydig en baie talentvol, maar hy het dit waarskynlik nooit vervul nie.
“Ek is baie hartseer om van sy afsterwe te hoor. Hy was nog so jonk.
“Ek sal hom onthou as ’n nederige ou, wat altyd positief was.
“Dit is ondenkbaar dat Gerbrand en nou ook Paul nie meer met ons is nie. Die tyd stap aan,” sê Heunis.
Grobler, wat ook vir Noord-Transvaal krieket gespeel het, is in November 1994 in ’n motorongeluk dood.