Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Bul Ruan voel nie soos buitestander

Die lekkerste aspek van die oud-Bul Ruan Steenkamp se eerste oefensessie saam met Griekwas was om weer deel van ’n span te wees.

Steenkamp (28) het Dinsdag die eerste keer saam met die Poubloues, vir wie hy voortaan rugby sal speel, geoefen nadat hy Maandag in Kimberley aangekom het.

Ruan Steenkamp in aksie vir die Bulle in ’n Curriebeker-wedstryd teen Griekwas in 2019 in Pretoria. Foto: Gallo Images

Dat Steenkamp, ’n oudleerling van die Hoërskool Monument in Krugersdorp, hoog aangeslaan word, is nie altemit nie.

Dié woelige losvoorspeler, wat deur ’n kollega wat goed met sy spel vertroud is, beskryf is as ’n “kombinasie tussen ’n baljagter en sterk baldraer”, het immers die Suid-Afrikaanse Skolespan, die Junior Bokke en die Bulle aangevoer.

Steenkamp het sedert 2012 sy rugby in Pretoria gespeel, maar toe Jake White die Bulle se leisels in 2020 oorneem, was hy nie deel van die nuwe visie in die Jakarandastad nie.

“Ons het vanoggend (Dinsdag) ’n sessie in die gimnasium en ’n skrumsessie gehad, en dit was lekker. Dit is lekker om weer deel van ’n span te wees,” het hy gesê.

“Hier is darem ook baie ouens wat ek ken en almal laat my baie welkom voel. Kom ons stel dit so: Ek was baie geseën om so lank in Pretoria te kon speel, ek was half gevestig en my familie was net om die draai.

“Jake het in November vir my gesê ek kan maar met vakansie gaan. In my oë was dit steeds werk, want ek het aangehou oefen. Dit was dalk beter as wat ek elke dag moes ingaan en dan onwelkom voel.”

Scott Mathie, afrigter van Griekwas, kan in die toekoms ’n paar aangename kopsorge hê. Foto: Gallo Images

Daar heers groot opgewondenheid in Kimberley oor die koms van Steenkamp, wat 100 kg weeg en 1,83 m in sy sokkies staan. Om ’n lostrio uit hom, Gideon van der Merwe, Carl Els en Stefan Willemse te kies, kan in die toekoms ’n aangename kopseer vir Scott Mathie, afrigter van Griekwas, wees.

Steenkamp is oorgehaal vir die nuwe uitdaging en volgens hom wil hy die beste van die kanse maak wat na sy kant toe kom. Hy is ook nie bitter oor hoe sy tyd in Pretoria geëindig het nie. Daarby sien hy potensiaal by die Poubloues om silwerware in die trofeekas in die Diamantstad te hê – iets waarvan hy deel wil wees.

“Uit die aard van die saak wil ek op die veld wees. Ek dink ons het die spelers en hier is genoeg talent om die Curriebeker te wen.

“Ek is nou sielkundig op ’n goeie plek en sien uit na die uitdaging. Almal het maar drome en ideale.

“Soms werk dinge anders uit, maar ek weet die Here het ’n plan met my. Anders sou Griekwas nie oor my pad gekom het nie. Ek wil net uitgaan en my bes doen.”

Meer oor:  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.