Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Bul Ruan voer Griekwas aan
Die oud-Bul Ruan Steenkamp sal die Griekwas vanjaar aanvoer. Foto: Gallo Images

Ruan Steenkamp, losvoorspeler en voormalige kaptein van die Junior Bokke, sal die Griekwas vanjaar in die Curriebeker-reeks aanvoer.

Steenkamp (28), het in April ’n tuiste in Kimberley gevind nadat hy by die Bulle weg is. Hy het sy senior provinsiale buiging in 2015 vir die Pretorianers gemaak en dié span ook aangevoer. Dié oudleerling van die Hoërskool Monument in Krugersdorp is ’n bewese leier, wat benewens die nasionale o.20-span in 2013, ook die Suid-Afrikaanse Skolespan in sy matriekjaar (2011) aangevoer het.

Die Poubloues begin hul aanslag in die Curriebeker Saterdag teen die Haaie in die Diamantstad.

Hoewel dit ’n hoë hekkie teen die Durbaniete is, sal die Poubloues selfvertroue put uit hul oorwinning oor die Cheetahs Vrydag in ’n oefenwedstryd.

Die Griekwas het die Vrystaters met 23-19 in Kimberley geklop, maar Scott Mathie, afrigter van die Griekwas, glo daar is nog baie ruimte vir verbetering.

Scott Mathie, afrigter van die Griekwas. Foto: Gallo Images

“Ek dink dit is belangrik om momentum te bou in aanloop tot die Curriebeker. Daar is altyd baie ruimte vir verbetering,” sê hy.

“Wat verdediging betref, moet ons ons getalle regkry. Daar was ’n paar goeie duikslae (teen die Cheetahs) wat wonderlik was. Die afbreekpunte is ook altyd ’n plek wat hoogs mededingend is, so ons moet seker maak dat ons daar doeltreffend is – soos om vinniger bystand vir ons spelers te verleen, sodat ons kan verseker dat ons besit verkry.”

Volgens Mathie moet hulle ook kyk na hul bestuur van ’n wedstryd.

“Ons skopspel Vrydag was nie so akkuraat soos wat ons graag sou wou nie. Daar was ons nie altyd bestendig nie.”

Teen die Cheetahs was daar soms ook tye dat die Poubloues se agttal dominerend was en daar was ’n paar stukkies goeie spel agterlangs deur veral Eduan Keyter (vleuel).

Dit klink soos ’n cliché, maar vir spelers soos Keyter en Masixole Banda (heelagter) om in die Curriebeker-reeks tot hul reg te kom is dit belangrik dat hulle besit kry. Om dit reg te kry, moet Steenkamp en die ander voorspelers voorlangs die pap dik aanmaak en die Haaie Saterdag tot oorgawe dwing.

Nie dat ’n oorwinning oor die KwaZulu-Natallers buite die Griekwas se bereik is nie. Die Noord-Kapenaars het 2019 se Curriebeker-seisoen met ’n klinkende oorwinning van 37-13 oor die Haaie in Durban begin. Daar is dus geen rede dat hulle nie die 2021-reeks op dieselfde noot kan afskop nie.

Meer oor:  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.