Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-blaser Jackson nou afrigter

Die voormalige Nieu-Seelandse rugbyskeidsregter Glen Jackson, wat vroeër sy fluitjie weggepak het nadat Wêreldrugby hom die rug toegekeer het, is nou deel van Fidji se afrigtingspan.

Glen Jackson in ’n Superrugby-kragmeting in 2019. Foto: Getty Images

Jackson (44) het in Januarie aangekondig dat sy tyd as skeidsregter verby is, omdat hy as wedstrydbeampte in 2019 se Wêreldbeker-toernooi in Japan oor die hoof gesien is.

Later daardie maand het dit bekend geword dat hy ’n pos by Sanzaar (beheerliggaam van Superrugby en die Rugbykampioenskap) aanvaar het, waar hy spelers se tegniek in duikslae in die Superreeks onder die vergrootglas sou plaas.

Maar nou het Vern Cotter, wat laat verlede jaar die leisels as hoofafrigter by die Fidjiane oorgeneem het, Jackson by sy afrigtingspan betrek. Dié voormalige losskakel sal die vaardigheidsafrigter wees en ook die spelers help om met die skeidsregters oor die weg te kom.

“Dit sal ons baie help, want as ons dissipline goed is en ons die aantal strafskoppe teen ons kan verminder, sal dit ons minder kwesbaar laat,” sê Cotter in ’n verklaring van die Fidjiaanse Rugbyunie.

Nie almal was altyd gaande oor Jackson in sy tyd as skeidsregter nie. In ’n anonieme peiling wat ’n paar maande gelede in Nieu-Seeland gedoen is, het hy loshande met die “prys” as die swakste fluitjieblaser in die Superreeks weggestap.

Buiten vir Jackson, het Cotter, wat voorheen spanne soos Skotland en die Franse klubspan Montpellier gebrei het, ook Daryl Gibson en Richie Gray by sy afrigtingspan gevoeg.

Gray was voorheen as ’n afbreek-spesialis by die Springbokke betrokke, terwyl Daryl Gibson die Waratahs tussen 2016 en 2019 in die Superreeks gebrei het. Gray se fokus sal weer die afbreekpunte wees, terwyl Gibson die sweep agterlangs sal klap.

Dié kundigheid sal beslis help om die Fidjiane ’n gedugte teenstander in vanjaar se agtnasies-toernooi in Europa (die Autumn Nations Cup) te maak. Die kompetisie sal uit die spanne wat aan die Sesnasies-reeks deelneem, sowel as Fidji en Georgië bestaan.

Fidji, 11de op die Wêreldranglys, begin sy veldtog op 15 November teen Frankryk. Hy sal Italië en Skotland daarna pak. Die span se laaste wedstryd sal teen een van Engeland, Wallis, Ierland of Georgië wees.

Dié kompetisie is gereël nadat Covid-19 die spanne van die Suidelike Halfrond voorkom het om soos gebruiklik aan die einde van die jaar na Europa te toer en omdat die uitgestelde Rugbykampioenskap geskeduleer is om in dieselfde tydgleuf sal plaasvind. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Fidji  |  Toetsrugby  |  Glen Jackson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.