Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Gimmie kan Griekwas op wenpad kry

’n Paar jaar gelede toe Griekwas se haker HJ Luus ’n belowende agtsteman in Paarl Gimnasium was, is die saadjie geplant vir hom om die skuif na die voorry te maak.

Griekwas se HJ Luus maak gereed om die bal by ’n lynstaan in te gooi tydens ’n kragmeting vanjaar in Kimberley. Foto: Gallo Images

Dié saadjie het water gekry en gegroei tot ’n speler wat vandag die Poubloues se nr. 2-trui met onderskeiding dra. Luus (24) sal ’n sleutelspeler wees wanneer Griekwas Vrydag teen die Pumas in Mbombela in die Curriebeker-rugbyreeks te staan kom.

Iemand wat hom goed ken en gehelp het om daardie saadjie te plant, is Christoff Lotter, wat Gimmies destyds afgerig het.

“Hy (Luus, wat Gimmies ook by geleentheid in sy matriekjaar aangevoer het) het altyd vir ons agtsteman gespeel. Hy is ’n harde werker, iemand wat baie lief vir rugby is.

In sy geval is dit daardie ding van hoe harder jy oefen, hoe gelukkiger raak jy.
Christoff Lotter

“Die ding van hom is dat hy baie vinnig is en plofkrag het. Ek onthou dat ek en Hendrik Weber (wat Gimmies saam met Lotter afgerig het) hom destyds in oefeninge as haker getoets het,” sê Lotter.

“Ons het gevoel dat hy bestem is om haker te speel en toe hy ná skool by die WP-rugbyinstituut aangesluit het, het hy die skuif gemaak. Hy het seker besef dis waar sy toekoms lê of daar was ’n geleentheid vir hom om die skuif te maak.”

HJ Luus in aksie vir Paarl Gimnasium tydens ’n kragmeting in 2014. Foto: Gallo Images

Luus het later ’n Matie geword, waar sy en Lotter se paaie weer gekruis het. Lotter het voorheen die Stellenbossers se Young Guns afgerig.

Op universiteit het Luus lank geskaaf aan sy spel, volgens Lotter “moes hy rondom 100 wedstryde in alle kompetisies vir Maties gespeel het” voordat hy hom in 2020 by Griekwas aangesluit het.

Luus het vinnig die Poubloues se nr. 2-trui syne gemaak en lewer week ná week goeie vertonings – dit is niks snaaks om hom soos ’n wafferse agterspeler met die bal in die hand te sien trek nie.

“Ek weet hoe hard hy werk en altyd sy beste in oefeninge gee. In sy geval is dit daardie ding van hoe harder jy oefen, hoe gelukkiger raak jy,” sê Lotter.

“Sy spel toon ’n opwaartse kurwe en ek het teen die Leeus (verlede naweek in Kimberley) gedink dat hy baie goed was. Hy is beslis waar hy moet wees.”

Die stryd in Mbombela is inderdaad die stryd van die agterosse. Griekwas is segeloos vanjaar, terwyl die Laevelders se enigste oorwinning oor die einste Noord-Kapenaars in die Superrugby Unlocked-reeks was.

Maar albei spanne het al met tye die seisoen goeie rugby gespeel – met die Poubloues wat die laaste ruk ’n goeie peil handhaaf.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, weet dat daar voor sy span se eie deur gevee moet word.

“Ons maak te veel foute. Dit is so eenvoudig soos dit. My boodskap aan die spelers hierdie week is eenvoudig om die basiese dinge reg te doen.”

Pumas: Tapiwa Mafura, Luther Obi, Erich Cronjé, Ali Mgijima, Etienne Taljaard, Devon Williams, Ginter Smuts, Willie Engelbrecht, Darrien Landsberg, Phumzile Maqondwana, Pieter Jansen van Vuren (k), Le Roux Roets, Ruan Kramer, Simon Westraadt, Dewald Maritz. PLAASVERVANGERS: Marko Janse van Rensburg, Ig Prinsloo, Brandon Valentyn, Daniel Maartens, Chriswill September, Tiaan Botes, Wayne van der Bank, Liam Hendricks.

Griekwas: James Verity-Amm, Daniel Kasende, Berton Klaasen, Johnathan Francke, Eduan Keyter, Tinus de Beer, Zak Burger (k), Johan Momsen, Stefan Willemse, CJ Velleman, Cameron Lindsay, Adré Smith, Ewald van der Westhuizen, HJ Luus, Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS (uit): Monde Hadebe, Andrew Beerwinkel, John-Roy Jenkinson, Mzwanele Zito, Carl Els, Theo Maree, André Swarts, Enver Brandt, Zandré Jordaan, Ewan Coetzee, Ashlon Davids.

  • Skeidsregter: Stuart Berry
  • Assistent-skeidsregters: Paul Mente en Morné Ferreira
  • TV-skeidsregter: Willie Vos
  • TV: Om 19:00 op SS Rugby (211) en GDN.

Meer oor:  Paarl Gimnasium  |  Gimmies  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby  |  Pumas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.