Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Griekwa se resep vir sukses in Kby
Pieter Jansen van Vuren bemeester ’n lynstaanbal vir Griekwas gedurende ’n kragmeting in 2018 in Kimberley. Foto: Gallo Images

Diegene wat Jimmy Stonehouse se praatjies die afgelope week in die opbou tot Saterdag se kragmeting met Griekwas vir soetkoek opgeëet het, kan dalk die naweek verras word.

Die Poubloues, wat verlede week net-net teen die Bulle verloor het, speel gasheer vir die Pumas in Kimberley in die Superrugby Unlocked-reeks.

Die Laevelders, aan die ander kant, het ’n redelike loesing aan die hand van die Vrystaat-Cheetahs gely – met ’n aantal spelers wat boonop beseer is. Wat jou maklik kan laat dink dat die Pumas Saterdag kanonvoer gaan wees.

Stonehouse, afrigter van die Pumas, het die afgelope week by meer as een geleentheid gewys op die talle onervare spelers in sy span. Wat die reine waarheid is.

Maar weet maar, toe die kamera hom verlede naweek in Bloemfontein afgeneem het waar hy agteroorsit en aanskou wat voor hom op die veld gebeur, het hy reeds begin plannetjies maak.

Hy het die kapteinskap aan Pieter Jansen van Vuren, wat Griekwas gedurende 2018 se SuperSport-reeks aangevoer het, toevertrou. Dié slot is uit die aard van die saak goed vertroud met die Poubloues, maar sê hy gaan nie gemengde emosies ervaar wanneer hy op die veld draf nie, “want my lojaliteit lê by die Pumas”.

“Kyk, ek dink dit is belangrik om uit jou foute te leer. Dit is ’n nuwe wedstryd, met nuwe geleenthede. Ons hoef niks snaaks te doen nie, solank ons by die stelsel hou, sal ons wen,” sê Jansen van Vuren.

“Griekwas is ’n span wat ’n mens onder druk sit en op jou foute teer (soos Anthony Volmink se drie teen die Bulle). Hulle hou daarvan om met skoppe in jou helfte van die veld te kom. Juis daarom gaan die vaste fasette belangrik wees en ons groot fokus gaan wees om te verseker dat ons fisiek is.”

Dit is hoeka waarop Scott Mathie, afrigter van Griekwas, ook die afgelope week gehamer het. Dat sy span fisiek moet wees.

Wat beteken dat ondersteuners hul lippe kan aflek vir ’n verwoede aanslag deur die twee spanne se voorspelers. In Niell Jordaan, Stefan Willemse en Carl Els het die tuisspan ’n lostrio wat almal sterk baldraers is en weet hoe om oor die voordeellyn te kom.

Dit klink dalk soos ’n cliché, maar slaag die Poubloues daarin om die Pumas voorlangs te tem, sal die besoekers se gevaarlike Devon Williams (heelagter) en Neil Maritz (vleuel) min van die bal sien. En dán is die stryd halfpad gewonne.

Mathie sou verlede naweek notas gemaak het van die Laevelders se onvermoë om by ’n vinnige tempo kers vas te hou. Maar dit sou ook nie ongesiens by Stonehouse verbygegaan het dat die Poubloues se voorspelers ’n groot aantal strafskoppe afgestaan het nie.

Wanneer die eindfluitjie blaas, sal ons weet watter breier se planne en uitvoering deur hul spelers op die veld die beste was . . . en watter een van dié twee spanne steeds sonder 'n oorwinning is.

Griekwas: Anthony Volmink, Daniel Kasende, Harlon Klaasen, André Swarts, James Verity-Amm, George Whitehead (k), Zak Burger, Niell Jordaan, Stefan Willemse, Carl Els, Victor Sekekete, Ian Groenewald, John-Roy Jenkinson, HJ Luus, Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS: Alandré van Rooyen, Andrew Beerwinkel, Madot Mabokela, Adré Smith, Zandré Jordaan, Gideon van der Merwe, Ashlon Davids, Berton Klaasen.

Pumas: Devon Williams, Etienne Taljaard, Erich Cronjé, Wayne van der Bank, Neil Maritz, Eddie Fouché, Ginter Smuts, Jeandré Rudolph, Willie Engelbrecht, Francois Kleinhans, Pieter Jansen van Vuren (k), Darrien Landsburg, Ruan Kramer, Simon Westraadt, Morgan Naudé. PLAASVERVANGERS: HP van Schoor, Liam Hendricks, Heath Backhouse, Phumzile Maqondwana, Dian Badenhorst, Niel Marais, Ali Mgijima, Dewald Maritz.

Skeidsregter: AJ Jacobs

Assistent-skeidsregters: Ben Crouse en Griffin Colby.

TV-skeidsregter: Cwengile Jadezweni

Afskop: 16:30 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.