Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Griekwa wil Stonehouse reg bewys

Nadat Pieter Jansen van Vuren twee jaar gelede nog Griekwas aangevoer het, het hy stelselmatig in onguns verval – en nou in Mpumalanga is hy besig om die stukke van sy rugbyloopbaan op te tel.

Dié slot en boorling van Pretoria het aan die einde van 2019 sy wortels in Kimberley opgetrek en hom by die Pumas aangesluit.

Hy erken dit was ’n moeilike tyd.

Pieter Jansen van Vuren rank in ’n lynstaan tydens ’n kragmeting in die SuperSport-uitdaagreeks in 2018 in Kimberley. Foto: Gallo Images

Jansen van Vuren het die Poubloues in 2018 aangevoer toe hulle die eindstryd van die SuperSport-uitdaagreeks gehaal het. Toe, in daardie jaar se Curriebeker-seisoen, word die kapteinskap aan Kyle Steyn toevertrou.

Wat seker nie die einde van die wêreld is nie, behalwe dat Jansen van Vuren die volgende jaar, in 2019, slegs twee oefenwedstryde vir die Poubloues gespeel het.

Hy het ook twee keer as leenspeler vir die Griffons diens gedoen . . . en die res van die seisoen duiksakke rondgedra.

En bly hoop.

“Ja, dit was frustrerend, ek het hard gewerk en baie moeite ingesit. Om dan nie die geleentheid te kry om jouself te kan meet en te bewys nie was ’n teleurstelling,” sê Jansen van Vuren.

“Ek is nie iemand wat gaan lê as dinge taai raak nie, dis juis dan wanneer ’n mens se karakter na vore kom. Ek glo ’n mens gee altyd 100% en wou gereed bly vir ingeval ek gekies sou word.”

Nou, in Mbombela, hoop hy om die geloof wat die Pumas se afrigter, Jimmy Stonehouse, in hom getoon het deur hom te kontrakteer, te regverdig.

“Ek is dankbaar vir die geleentheid om deel van die Pumas te kan wees en hoop om ’n positiewe bydrae hier te kan lewer.

“Dit gaan goed hier, dis lekker om ná die inperking weer doelgerig te kan oefen – al is dit onder streng reëls en regulasies. Ek het goed ingeskakel. Ek geniet Mbombela baie, en die spelers en bestuur het my van die begin af laat welkom voel,” sê Jansen van Vuren.

Hoewel die Pumas dalk nie die sterspelers het wat die groot unies het nie, sal die Laevelders in die plaaslike reeks, wat na verwagting in September gaan begin, wil wys dat hulle tande allermins stomp is.

Hulle het 2019 se Curriebeker-reeks in die laaste plek afgesluit nadat hulle slegs die Haaie kon klop. Dit het beteken dat hulle hul status in die Premierliga in ’n promosie-relegasie-wedstryd teen die Griffons moes verdedig.

Maar die Laevelders was allermins verlede seisoen vrot, en het in ’n paar wedstryde in die Curriebeker, teen die Goue Leeus (37-38), Griekwas (29-37) Blou Bulle (17-25) en die Vrystaat-Cheetahs (37-43), goeie rekenskap van hulself gegee.

Meer oor:  Pumas  |  Griekwas  |  Jimmy Stonehouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.