Brynard Stander, ’n voormalige losvoorspeler van die Haaie, sal Vrydag die rugbyspan van die Western Force vir die eerste keer op die veld lei.
Die Force speel in Sydney in ’n wedstryd in die Australiese Super-reeks teen die Waratahs.

Die Durbanse boorling Brynard Stander voer Vrydag die Western Force teen die Waratahs aan. Foto: Getty Images
Stander (30), wat onder sy spanmaats as Bull bekend staan, neem die kapteinskap by die skrumskakel Ian Prior oor.
Prior bevind hom op die plaasvervangersbank met Tim Sampson, die Force se afrigter, wat besluit het om eerder met die Argentyn Tomas Cubelli te begin.
“Dis niks minder as 100% vir Brynard nie,” sê Sampson.
“Hy oefen uitsonderlik hard en is ’n passievolle en lojale speler.”

Die Argentynse skrumskakel Tomas Cubelli kan ’n nuwe dimensie aan die Western Force se agterlyn gee. Foto: Getty Images
Stander, wat in 2012 en 2013 vir die Haaie uitgedraf het, speel al sedert 2014 vir die Force.
Sampson sal hoop dat Stander die Force vir die eerste keer in ’n lang tyd tot ’n oorwinning kan aanvoer.
Die Force het sedert sy terugkeer na Australië se Superrugby-reeks verlede jaar al nege keer agtereenvolgens verloor.
Die kragmeting met die Waratahs is dalk sy beste kans vir ’n oorwinning in ’n lang tyd.
Die sukkelende Waratahs, wat ook van die veld af baie probleme op administratiewe vlak het, het sover hierdie seisoen in twee wedstryde reeds meer as 100 punte afgestaan.
• Die All Black-skrumskakel Aaron Smith bevind hom intussen ook op die plaasvervangersbank vir die Highlanders se Superrugby Aotearoa-wedstryd in Waikato teen die Chiefs.

Aaron Smith wil hierdie seisoen ’n bietjie minder rugby speel. Hy sit Vrydag vir die Highlanders op die plaasvervangersbank teen die Chiefs. Foto: Getty Images
Dis egter nie asof Folau Fakatava die 32-jarige Smith gelig het nie.
Smith het vroeër in die week sy kontrakte met die All Blacks en die Highlanders tot 2023 verleng.
Hy het toe gesê dat hy daarop aangedring het dat sy werklas verlig moet word aangesien hy glo teen die einde van verlede seisoen ’n “gebreekte man” was.
Dis duidelik dat die Highlanders dié ooreenkoms ernstig opneem en Smith word sommer vroeg-vroeg ’n blaaskans gegee.
• Die Brumbies en die Rebels speel Saterdag in nog ’n wedstryd in die Australiese reeks in Canberra teen mekaar.
Sondag pak die Crusaders en die Hurricanes mekaar in nog ’n wedstryd in die Nieu-Seelandse reeks in Christchurch. – Reuters; stuff.nz; superrugby.co.nz.
TV: Chiefs t. Highlanders: 08:00 en Waratahs t. Force: 10:40, albei op SS Rugby (kanaal 211 op DStv).