Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Leeu straks ridder op wit perd

Een van die grootste redes hoekom Amerika nog nie ’n rugbymoondheid is nie, is omdat daar nie ’n rugbykultuur bestaan nie, maar Todd Clever, voormalige losvoorspeler van die Leeus, kan straks dié prentjie help verander.

Todd Clever duik oor die doellyn vir die Leeus teen die Hurricanes in ’n Superrugby-wedstryd in 2009 in Johannesburg. Foto: Gallo Images

So glo Loffie Eloff, onder wie se afrigting die 37-jarige Clever in 2009 en 2010 Superrugby vir die Leeus gespeel het. Daarmee het Clever die eerste Amerikaner geword om in dié reeks te speel.

Clever het sy land se nasionale span, die Eagles, in 76 toetse (52 as kaptein) verteenwoordig, en ook vir Amerika in 24 toernooie in Wêreldrugby se sewesreeks gespeel.

Hy is deesdae die direkteur van rugby by die Austin Gilgronis, ’n Amerikaanse klubspan.

“Todd kan volgens my ’n groot rol in Amerikaanse rugby speel. Een van hul probleme is dat hulle nie na raad luister nie. Hy (Clever) kom uit ’n rugbykultuur van sy tyd by die Leeus en in Japan,” sê Eloff, wat ook voorheen in Amerika afgerig het.

“In Amerika is daar nie ’n rugbykultuur nie, hulle bring Ma’a Nonu (oud-All Black) en Mathieu Bastareaud (voormalige Franse toetsspeler) om die sport te bemark. Maar dit help nie, want niemand weet wie hulle (Nonu-hulle) is nie.

“My raad (aan die VSA-rugbybase) was om die sport op junior vlak te ontwikkel,” sê hy.

Die Amerikaanse sewesspeler Carlin Isles laat wiel op die Hongkong-toernooi in 2019. Foto: Getty Images

Eloff vertel dat daar destyds by die Leeus ’n tyd was wat hy gevoel het dat Clever “stagneer” en het hom gevolglik vir ’n wedstryd uit die span gelaat. Die Amerikaner se reaksie het Eloff iets van sy menswees gewys.

“Baie spelers sal nie saamstem as jy dit vir hulle sê nie, maar Todd het nie van my verskil nie. Ná ’n wedstryd teen die Reds in Brisbane het hy op sy eie op die veld naellope gaan oefen.”

Amerika was verlede jaar sonder ’n oorwinning by die Wêreldbeker-toernooi in Japan, maar sy sewesspan het die 2018-’19-seisoen in die tweede plek afgesluit. Om tot rugby in dié land se kopsorge by te dra, het die Amerikaanse Rugbyunie vroeër vanjaar aansoek gedoen om bankrot verklaar te word. Tog glo Clever dat daar lig in die tonnel is.

“Ek glo dat rugby in Amerika uit die finansiële moeilikheid gaan kom. Sodra dit gebeur en hulle in staat is om behoorlike strukture in plek te stel, dink ek nie daar is ’n beperking op wat hulle kan bereik nie.

“Ons het nog ’n entjie om te gaan voordat ons een van die beste spanne in die wêreld kan wees. Die Major League Rugby (Amerika se klubkompetisie) gaan ’n groot rol daarin speel. Ek glo die twee belangrikste dinge wat nodig is om sukses te behaal, is hulpbronne en die roete (wat gevolg word),” sê Clever.

Dit was destyds ’n droom wat bewaarheid is om Superrugby te speel en Clever vertel dat hy steeds ’n sagte plekkie vir Suid-Afrika en sy mense het.

“Ek sal altyd my speeldae onthou, ek het goeie vriende oor die wêreld heen gemaak. Die spel het my liggaamlik en geestelik uitgedaag en ek het ’n goeie tyd gehad terwyl ek dit gedoen het.

“My tyd in Suid-Afrika by die Leeus was een van my grootste prestasies. Ek is lief vir Suid-Afrika, die mense, kultuur en die kos,” sê hy.

“Ek beskou Suid-Afrika as my tweede huis. Van my beste vriende bly daar en ek probeer altyd om hulle gereeld te besoek.”

Meer oor:  Todd Clever  |  Leeus  |  Vsa  |  Eagles  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.