Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nederlanders leer rugby by oud-Matie
Pieter Schoonraad in aksie vir die Ikeys tydens ’n klubwedstryd teen Villagers in 2018. Foto: Gallo Images

Om ’n rugbyafrigter in ’n land soos Nederland te wees, is ’n taai uitdaging, veral omdat daar nie skolesport soos by die meeste voormalige Model C-skole in ’n land soos Suid-Afrika is nie.

Dít is een van die uitdagings waardeur die voormalige Maties- en Ikeys-rugbyspeler Pieter Schoonraad, wat in Utrecht bly en werk as afrigter, in die gesig gestaar word.

“Ongelukkig is sport en skool in Nederland van mekaar geskei. Omdat rugby natuurlik nie so groot is in Nederland nie (die land is 25ste op Wêreldrugby se ranglys), word die meeste van die spelers ook eers baie laat aan die sport blootgestel.

“Dit beteken dat baie van die kernvaardighede wat ons in Suid-Afrika as vanselfsprekend beskou, eers op 18-jarige ouderdom ontwikkel moet word. So dit is ’n uitdaging om die spelers die basiese vaardighede te leer sonder dat jy hulle verveel,” sê die 26-jarige Schoonraad, ’n oudleerling aan die Hoër Jongenskool Paarl.

Hy was in 2016 die kaptein van Maties se sewesrugbyspan en het daardie jaar sy studies in finansiële bestuur voltooi. Hy was egter onseker of hy die arbeidsmark moes betree, sy loopbaan as speler voortsit of verder moet studeer, toe die opsie om Nederland toe te gaan oor sy pad gekom het.

Vroeg in 2017 het Schoonraad besluit om by die Nederlandse studenteklub Ascrum as speler en afrigter aan te sluit, en die plan was bloot om ’n gapingsjaar te doen. Hy het daardie jaar ’n paar keer tussen Suid-Afrika en Nederland gependel weens visumbeperkings, voordat hy besluit het om weer agter die boeke in te skuif.

“Ek het besluit om in 2018 ’n honneursgraad in finansiële analise by die Universiteit van Kaapstad (UK) te doen, met die oog om in die Varsitybeker-reeks te speel. Ek wou ook ’n goeie kwalifikasie kry sodat ek kon terugkeer na Nederland.

Ná ’n betreklik suksesvolle Varsitybeker het ek egter ontdek dat die finansiële bedryf nie vir my is nie.
Pieter Schoonraad

“Ná ’n betreklik suksesvolle Varsitybeker het ek egter ontdek dat die finansiële bedryf nie vir my is nie. Ek het my studies by UK gestaak en begin soek vir ander moontlikhede om terug te keer na Nederland,” sê Schoonraad.

Dit was tóé dat hy besluit het om in te skryf vir ’n graad by die Universiteit van Tilburg – wat aan hom die moontlikheid gegee het om op ’n langer termyn in Nederland te woon. Omdat “die huur betaal moes word” en Schoonraad tevore by afrigting betrokke was, het hy besluit om sy kennis oor die ovaalbal met die Nederlanders te deel.

Schoonraad erken hy het nooit gedink dat hy Nederland sy tuiste sou maak nie.

“Hulle (die Nederlanders) is baie meer oopkop en liberaal. Ek dink nie dat dit ooit maklik is om aan te pas so ver van die huis af nie, maar die taal en integrasie deur die rugbyklub het dit vir seker makliker gemaak.

“As jy regtig jou bes doen, kan jy binne ’n paar maande Nederlands praat en verstaan. Die kultuur by die studenteklub was baie dieselfde as in Suid-Afrika,” sê hy.

En wat maak Schoonraad as die verlange na Suid-Afrika te veel raak?

“Gelukkig is hier ’n taamlike groot groep expats; ons probeer gereeld oor naweke om saam te braai en bier te drink.”

Meer oor:  Nederland  |  Kaapstad  |  Stellenbosch  |  Rugby  |  Ikeys  |  Sewes  |  Maties  |  Sewesrugby  |  Varsitybeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.