Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Tukkie Massyn ‘100% Matie’
Chris Massyn word Maandag in Stellenbosch gelukgewens deur die haker Dan Jooste (links) en die plaasvervanger-skrumskakel, Brendon Nell, nadat hy ’n drie teen die Shimlas gedruk het. Foto: Gallo Images

Sy lojaliteit as Matie kan nie in twyfel getrek word nie, sê die oud-Tukkie Chris Massyn, wat die Stellenbossers Maandag in die halfeindronde van die Varsitybeker-reeks aangevoer het.

Wanneer dié 24-jarige flank volgende week vir Maties in die eindstryd van die Varsitybeker-reeks in Stellenbosch op die veld draf, sal dit teen die einste Tuks wees wat hy in 2017 gehelp het om dié reeks te wen.

Tóé het Massyn, ’n boorling van Krugersdorp, Tuks aangevoer, wat daardie dag die Maties met 28-21 in die eindstryd in Pretoria geklop het.

“Ek is 100% ’n Matie, en ja, daar gaan maar altyd ’n snaakse gevoel wees. Ek het egter goed in Pretoria afgesluit voordat ek hierheen gekom het,” sê Massyn, wat besig is met ’n nagraadse diploma in bestuur.

“Ek is baie opgewonde oor die wedstryd, baie van Tuks se huidige spelers was destyds juniors. Ons almal hou van rugby en wil tog teen mekaar speel.
Chris Massyn

“Ek is baie opgewonde oor die wedstryd, baie van Tuks se huidige spelers was destyds juniors. Ons almal hou van rugby en wil tog teen mekaar speel.”

Massyn, wat by die Westelike Provinsie gekontrakteer is, het nooit gedink hy sou dit so ver in rugby bring nie.

“By die meeste Suid-Afrikaanse seuns is daar ’n liefde vir rugby en dit was met my ook so. Ek het Welpie-rugby gespeel en later, toe ek 16 was, het die Bulle my genader en gesê dat ek talent het,” sê Massyn.

Chris Massyn in 2017 in ’n Tuks-trui in die eindstryd van die Varsitybeker-reeks teen Maties in Pretoria. Foto: Gallo Images

Hy het aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp gematrikuleer en die Leeus twee keer in die Cravenweek-toernooi verteenwoordig.

Massyn verwag Maandag ’n klipharde stryd voorlangs en glo die span wat die trofee omhoog wil hou, voorlangs sal moet oorheers.

“Tuks het ’n baie goeie seisoen, terwyl hul losskakel Tinus de Beer baie gevaarlik is. Ons sal ’n plan met hom moet beraam.”

Wanneer Massyn nie op die rugbyveld is nie, hou hy daarvan om saam met sy vrou, Liannie, “die Kaapse lewe te geniet”.

“Ons het twee hondjies en gaan graag strand toe of besoek ’n wynplaas of twee,” sê hy.

* Sou die gereelde kaptein, die slot Johan Momsen, later dié week fiks verklaar word, sal hy die Maties aanvoer.

Daar is intussen ook onsekerheid oor die beskikbaarheid van die skrumskakel Logan Boonzaaier vir die eindstryd. Hy het die veld in die halfeindstryd-sege oor die Shimlas met ’n skouerbesering verlaat.

Meer oor:  Pretoria  |  Stellenbosch  |  Rugby  |  Tuks  |  Varsitybeker  |  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.