Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oupa Cheetah Verster se laaste oorlog
Harold Verster
Harold Verster gaan vir oulaas vir die Vrystaat baklei. Foto: Mlungisi Louw

Harold Verster het nog een belangrike geveg oor voordat hy volgende week sy kantoor as die besturende direkteur van die Cheetahs ontruim.

Oupa Cheetah, soos hy onder sy sewe kleinkinders bekend staan, moet vir oulaas vir sy geliefde span se plek onder die son baklei.

Vrystaat-rugby staan soos dikwels in die verlede weer by ’n kruispad. Dinsdag besluit SA Rugby watter vier van die ses franchises uit die Cheetahs, Bulle, Leeus, Haaie, Stormers en Kings van aanstaande jaar af in die vergrote Europese Pro16-reeks gaan speel.

Die Kings het hulself insolvent verklaar en is nie meer in die prentjie nie. Een van die vyf grotes gaan in die slag bly.

Die uitkoms van Dinsdag se vergadering van SA Rugby se hoofraad sal bepaal hoe gesog Verster se pos is wat hy sedert 1997 via ’n aanstelling deur SuperSport beklee het.

“Voordat ek uittree, sal ek graag wil toesien dat Vrystaat-rugby sy welverdiende plek in internasionale kompetisies soos ’n Pro16 behou. Dat hulle een van die groot vyf of ses sal bly, soos nog altyd,” sê Verster.

Dat die Vrystaat hom in dié stryd teen die toue bevind, is gewis so. Maar teen die planke? Nooit nie. Nie die Vrystaat nie. Gaan kyk na 2005 se Curriebeker-eindstryd as jy ’n blik op die wese van ’n unie wil kry vir wie Verster sy moue vir dekades opgerol het. Hy dink met heimwee terug en beskou daardie wen van 29-25 as een van die groot hoogtepunte in sy tyd by die Vrystaat.

“Elkeen van die vyf Curriebeker-oorwinnings – in 2006 het ons hom gedeel – in my tyd by die Cheetahs was ’n hoogtepunt, maar 2005 s’n staan om twee redes uit: Dit was die eerste een sedert ek in 1993 oorgeneem het as president en die oorwinning het uit die bloute gekom nadat almal gedink het dit is neusie verby vir die Vrystaat,” vertel hy.

“Sewe minute voor die eindfluitjie was die telling nog 25-15 in die sterbelaaide Bulle se guns. Niemand behalwe die spelers het die verrassende ontknoping sien kom nie.

“Wat gevolg het, was seker die gedenkwaardigste sewe minute in die geskiedenis van Vrystaat-rugby. Wie sal ooit daardie wonderlike drie van Meyer Bosman vergeet wat die oorwinning vir die Vrystaat verseker het?

“Ek is seker die hele land behalwe die Bulle het daardie dag saam met die Vrystaat-ondersteuners gejubel.

“Interessant genoeg het Rassie Erasmus, wat daardie jaar die Vrystaat begin afrig het, dieselfde strategie toegepas as met verlede jaar se Wêreldbekereindstryd: Om die teenstanders moeg te skrum. Hy het derhalwe vyf stutte in sy 22-tal gekies.

“Vrystaat-rugby is nou weer in die posisie waar die span hom daardie dag bevind het. Vir talle waarnemers kan dit lyk of ons teen die toue is, maar die wedstryd is nog nie verby nie. Ons Vrystaters kry ons vegtersinstink saam met ons moedersmelk in.”

“! Ons het ’n kontrak in Pro14 vir nog ’n tyd lank.

Verster beklemtoon die belangrikheid van Dinsdag se vergadering van SA Rugby se hoofraad.

Rugby is in my wese. Ek het nooit vir rugby gewerk nie. Ek het vir rugby gelewe en ek lewe steeds vir rugby.

“Dinsdag se vergadering is een van die belangrikste – indien nie die héél belangrikste nie – in die 125-jarige bestaan van Vrystaat-rugby. Daar kan gestem word dat Vrystaat nie een van die spanne in die Pro16 is nie, wat die Cheetahs in ’n uiters moeilike finansiële posisie sal plaas.

“Dit is die direksie en Vrystaat-rugby se verantwoordelikheid om al die regte en belange van Vrystaat-rugby, wat oor 125 jaar opgebou is, op die hoogste vlak en op elke beskikbare wyse te beskerm. Ons dra ook ons ondersteuners, ons werknemers en ons spelers se belange op die hart.”

“Uit ’n ekonomiese punt is dit ook in Bloemfontein en die groter Vrystaat se belang dat die Cheetahs een van die franchises bly.”

Nadat sy termyn as die besturende direkteur einde vandeesmaand verstryk, sal die 70-jarige Verster, wat al dikwels in die kryt vir sy span moes klim, nog minstens tot volgende jaar Maart as ’n sakekonsultant by die Cheetahs aanbly.

“Ek sal nooit my bande met Vrystaat-rugby heeltemal verbreek nie. Al word ek bloot ’n seisoenkaartjiehouer en sit ek in die paviljoen, sal ek in hart en siel in rugby wees.”

“Ek kan selfs op ander vlakke met ontwikkeling, transformasie, klubrugby en selfs in die platteland help.

“So ek en my broer Basie is albei uit rugby uit. Ons is lief vir die spel. So ons sal saam steeds die Cheetahs ondersteun, want ons is van geboorte af Vrystaters.”

Verster en sy vrou, Erica.

Verster is inderdaad ’n Vrystater in murg en been. Hy is op 22 Desember 1949 op Vrede in die Noordoos-Vrystaat gebore.

Hy was tot in 1963 op Vrede in die laerskool. Hy het sy matriek in 1968 aan Grey-kollege in Bloemfontein geskryf, waarna hy sy militêre diensplig in die Lugmag Gimnasium in Pretoria gedoen het.

Hy het as ’n aandstudent aan die Universiteit van die Vrystaat sy honneurs in BA Kommunikasiekunde verwerf.

In sy speeldae het Verster in 14 wedstryde op flank vir die Vrystaat gespeel, waarvan drie saam met sy broer, Basie, was. Hy was ’n verwoestende flank wat vir g’n duiwel teruggestaan het nie.

“Rugby is in my wese. Ek het nooit vir rugby gewerk nie. Ek het vir rugby gelewe en ek lewe steeds vir rugby,” sê hy.

Sy betrokkenheid by Vrystaat-rugby strek oor langer as 50 jaar.

In 1973 was hy ’n plaasvervanger vir die Curriebekereindstryd en in 1974 in die Vrystaatspan wat byna Willie-John McBride se Britse en Ierse Leeus geklop het.

Harold Verster
Verster saam met sy broer, Basie.

“In my persoonlike lewe was my hoogtepunte toe ek saam met my broer, Basie, vir die Shimlas in die destydse ‘Vasity Cup’ gespeel en dit teen Tukkies gewen het. Ek, hy en Gerrie Sonnekus was die losvoorspelers. Ons het eers Ikeys hier gewen, naelskraap, 24-23 nadat ons rustyd 6-23 agter was en dan ook die oorwinning teen Tuks, 18-6 later aan. Dit was destyds die Ted Sceals-trofee genoem.

“Ander hoogtepunte was om ’n reserwe te wees vir die Curriebekereindstryd in 1973 op Loftus en om in 1974 se halfeindstryd teen die Blou Bulle in Bloemfontein te speel. En dan my hoogtepunte was om ’n reserwe te wees vir die Curriebekerspan in die eindstryd van 1973 op Loftus. Ek het ook in 1974 in die halfeindstryd teen die Blou Bulle in Bloemfontein gespeel. Ons het in die laaste sekonde verloor.

“Dan was daar die Britse en Ierse Leeus in 1974. Dit was absoluut ’n hoogtepunt om teen Willie John McBride te kon speel.

“As Fergus Slattery my nie vasgehou het ná ’n skrum nie, sou ek ’n drie deur Mervyn Davies beslis kon stop en sou ons gewen het. Ek het Slattery darem ’n lekker regter toegedien.”

Toe hy in ’n stormagtige tyd in Vrystaat-rugby in 1993 as die nuwe baas oorgeneem het, was sy grootste ideaal om harmonie, vrede en samewerking te bewerkstellig.

Hy het eindelik in sy termyn as president en besturende direkteur verskeie hoogtepunte beleef.

“Sewe minute voor die eindfluitjie was die telling nog 25-15 in die sterbelaaide Bulle se guns. Niemand behalwe die spelers op die veld het die verrassende ontknoping sien kom nie.

“Wat gevolg het was seker die gedenkwaardigste sewe minute in die geskiedenis van Vrystaatrugby. Wie sal ooit daardie wonderlike drie van Meyer Bosman vergeet wat die oorwinning vir die Vrystaat verseker het?

“Ek is seker die hele land behalwe die Bulle het daardie dag saam met die Vrystaat-ondersteuners gejubel.

“Interessant genoeg het Rassie Erasmus, wat daardie jaar die Vrystaat begin afrig het, dieselfde strategie toegepas as met verlede jaar se Wêreldbekereindstryd: om die teenstanders moeg te skrum. Hy het derhalwe vyf stutte in sy 22-tal gekies.

“Vrystaatrugby is nou weer in die posisie waar die span hom daardie dag bevind het. Vir talle waarnemers mag dit lyk of ons teen die toue is, maar die wedstryd is nog nie verby nie. Ons Vrystaters kry mos ons vegtersinstink saam met ons moedersmelk in.”

Nog iets wat vir hom groot bevrediging verskaf het, was dat die Vrystaters die eerste rugbyunie in Suid-Afrika was wat ’n nuwe naam, Cheetahs, vir die professionele era aanvaar het.

“Dit was in so ver terug as 1996 en ek is trots daarop dat dit vandag een van die gewildste handelsname ter wêreld is.

Harold Verster (heel links) in aksie vir Vrystaat teen Noord-Transvaal. Sy spanmaats is (van links) Stoffel Botha, Jake Swart en Martiens le Roux. Dirk de Vos is die Noord-Transvaler met die bal.

“Ons was ook baie gelukkig om borge soos Konica Minolta uit die staanspoor tot vandag toe te kry. Later het Vodacom aan boord gekom, gevolg deur Toyota, wat die Sentrale Cheetahs en die Cheetahs met groot geld geborg het. “Ek dink ons het deur die jare goeie finansiële bestuur toegepas. Daar was moeilike tye, maar ons het altyd kop bo water gehou: Iets waarop sommige van die ander franchises nie aanspraak kan maak nie,” sê hy.

“Die kontraktering van spelers is ook nie ’n maklike taak nie. Jaar ná jaar word spelers wie se talent in die Vrystaat ontwikkel is deur die ander groot franchises oorgekoop. Dit is egter ’n noodsaaklike euwel, want die volgende dag wil jy weer ’n speler bekom.”

Ander hoogtepunte onder Verster sluit in die 43 Bokke, 39 SA o.21-spelers, 32 SA o.20-spelers, 34 Blitsbokke, 60 SA Skolespelers en agt Bok-vroue wat die Vrystaat opgelewer het.

Hy was ook destyds by die bou van die nuwe Vrystaat-stadion teen R50 miljoen, die verkryging van ’n buite-aandeelhouer soos SuperSport, die verkryging van ’n Super14-bedryfsreg en die werwing van Toyota as hoofborg betrokke.

Verster het boonop einde-2004 gehelp om die deur vir Erasmus as ’n afrigter oop te skop.

“Wel, Rassie het ons van die begin af as ’n rugby-deskundige beïndruk. As speler en kaptein het hy geweldig bygedra tot die afrigtingsprosesse,” vertel hy.

“Peet Kleynhans het my kom sien en gesê sy tyd om te gaan het aangebreek en ons sal moet kyk na nuwe afrigters. Hy het gedink Rassie moet ’n kans kry.

“Ek dink dis die kultuur wat hier leef wat topafrigters lewer. Ons gee hulle geleenthede om hulself te kan uitleef. Ons het vir Rassie op ’n jong ouderdom die deur oopgemaak om ’n afrigter te word.

“Ons het die potensiaal gesien en ek het by baie geleenthede voorspel dat ons die Wêreldbeker met hom sal wen.”

Al word Verster dikwels daarvan beskuldig dat hy te lank aan die leisels vasgeklou het, het hy dit met rede gedoen. Hy wou met die hulp van onder meer Bert Sorour eers die strukture tussen amateur- en beroepsrugby in die Vrystaat in plek kry.

Hulle moes daarvoor dinge soos die grondwet, regulasies en ooreenkomste met aandeelhouers aanpas. Dit het tyd geneem en hy het gevoel hy moet nie die leisels los voordat dit in plek was nie.

Die oomblik toe alles in plek was, kon ek as uitvoerende hoof al my aandag aan die kommersiële uitdagings skenk. Die unie is derhalwe nou op ’n goeie plek. Baie unies sukkel nog met die verhouding tussen maatskappy en unie, en ek is trots daarop dat ons s’n in plek is,” sê hy.

“Ek is dankbaar dat die Cheetahs leiers soos ons voorsitter, Ryno Opperman, en ons president, Jerry Segwaba, het om die unie vorentoe te neem. Die Cheetahs is in goeie hande.”

Meer oor:  Laaste Geveg  |  Cheetahs  |  Harold Verster  |  Gesprek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.