Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oupa glimlag weer breed ná kontrak

Hy het ’n moeilike tyd beleef, maar die Cheetahs het hom bygestaan en daarom kan die Springbok-losvoorspeler Oupa Mohoje weer breed glimlag.

Hy het weens ’n knaende kniebesering twee jaar laas rugby gespeel en die kanse dat spanne vir sy dienste sou toustaan, was allermins ’n gegewe.

Sy kontrak met die Cheetahs het op 31 Mei verstryk en daar was toe nog geen vooruitsigte nie. Hy het pas ’n kontrak van ’n jaar met die Cheetahs gesluit.

Die 29-jarige Mohoje het Maandag erken hy was ’n bekommerde man, maar daar was in daardie stadium gesprekke tussen hom en die Cheetahs se breier, Hawies Fourie.

Oupa Mohoje glimlag weer breed nadat hy ’n kontrak van ’n jaar met Cheetahs gesluit het. Foto: Gallo Images

“Om vir twee jaar lank weens ’n besering nie te speel nie, is moeilik boonop want weet jy jou kontrak gaan eindig. Toe kom die Covid-19-pandemie en dit het my my toekoms as rugbyspeler laat bevraagteken.

“Ek het toe reeds met Hawies gesels, maar daar was steeds niks nie. Hawies was gretig om my te behou en dit het dinge aansienlik makliker gemaak. Daarom is ek dankbaar dat ek weer ’n kontrak by die Cheetahs gekry het.

“Dit is my huis, dis hier waar ek leer rugby speel het. Ek was nog by geen ander span sedert ek beroepsrugby begin speel het nie,” sê Mohoje.

Oor die ander aanbiedings wat hy later gekry het, wil Mohoje nie praat nie, want sy fokus lê by die Cheetahs.

Hy en Fourie is ook nie vreemdelinge vir mekaar nie, aangesien Fourie die agterspeler-afrigter onder Naka Drotské was voordat hy by die Cheetahs weg is.

“Dis ’n voorreg om weer saam met Hawies te kan werk. Ek sien uit daarna om weer op die veld te kom en saam met die span vir hom te speel en ’n positiewe bydrae te kan maak.

“Natuurlik wil ek aanhou vir die Cheetahs speel en hierdie geleentheid wat ek nou kry wil ek gebruik om myself weer in die span te vestig.”

Oor watter posisie Cheetah-ondersteuners hom in gaan sien, sê Mohoje dit hang alles af van wat Fourie se plan is.

Fourie het juis laat deurskemer dat hy Mohoje op slot wil gebruik, maar met die terugkeer van twee strydrosse Carl Wegner en Reniel Hugo, sou hy dalk tot ander insigte gekom het oor waar hy die Springbok kan en wil aanwend.

“Ek weet ek gaan nie net in die span instap nie. Nou begin die harde werk. Ons sit met spelers van gehalte so as ek ’n geleentheid in die span kry, dan sal ek moet aanhou goed vaar om in die span te kan bly.”

Selfs nadat Mohoje se kontrak einde Mei verstryk het, was hy steeds “deel” van die Cheetahs se vergrote groep en het hy aanhou op sy eie oefen, in die hoop dat hy sou regkom met ’n kontrak.

Hopelik kan hy wanneer daar in groepe geoefen kan word, die doodskoot plant en Fourie oortuig dat sy besluit om hom ’n kontrak te bied, die regte besluit was.

Dan moet hy hom in die kontaksituasie en uiteindelik wedstrydsituasie bewys.

Meer oor:  Oupa Mohoje  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.