Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oupa in Mei terug, verleng kontrak

Die Cheetahs se beseerde Pro14-kaptein en Springbok-losvoorspeler, Oupa Mohoje, se herstel van ’n ernstige kniebesering is goed op koers.

Oupa Mohoje word deur die Scarlets-stut Wyn Jones beetgekry in die spanne se Pro14-wedstryd in Llanelli in April vanjaar. Foto: Getty Images

Hy het sy knie beseer in die eerste wedstryd van die Pro14-seisoen in September vanjaar teen Munster in Ierland, waar hy die veld ná slegs 13 minute verlaat het. Hy het intussen ’n knieoperasie ondergaan en is volstoom besig met sy rehabilitasie en sal in Mei volgende jaar, nege maande ná sy besering, sy terugkeer maak.

“Ek het juis Woensdag weer die dokter wat my geopereer het, gaan spreek en hy is tevrede met die vordering wat ek maak. Sover verloop alles volgens plan vir my terugkeer,” sê Mohoje.

Goeie nuus vir Cheetah-ondersteuners is dat Mohoje onlangs sy kontrak tot einde 2020 verleng het. Hy praat nie sommer oor ander aanbiedinge wat daar was nie en sê hy is gelukkig by die Cheetahs en wil graag by dié span bly.

Mohoje erken dit is frustrerend langs die kantlyn, maar dit is die aard van sy werk en hy het van meet af geweet waarvoor hy hom inlaat (beserings) toe hy besluit het om rugby sy loopbaan te maak.

“Ek is lief vir rugby en soos in enige ander sportsoort doen spelers beserings op. Niemand kan voorspel wat met hom op die veld gaan gebeur nie en ek het vrede gemaak dat ek baie lank uit sal wees.”

Hy sê wat die besering nog erger maak, is dat hy daarvan gedroom het om deel van die Springbokke se Wêreldbekerveldtog te wees.

“Dit is natuurlik sleg omdat ek graag vir die Springbokke in die Wêreldbekertoernooi wou speel, maar dit lyk nie of dit gaan gebeur nie. Dis ’n terugslag wat ek eenvoudig moet verwerk.

“Ek fokus nou daarop om weer reg te wees vir die Cheetahs, en hoewel ek van ’n Wêreldbekertoernooi droom, sal ek in elk geval nog baie rugby speel,” sê die 28-jarige Mohoje.

Ek fokus nou daarop om weer reg te wees vir die Cheetahs, en hoewel ek van ’n Wêreldbekertoernooi droom, sal ek in elk geval nog baie rugby speel.
Oupa Mohoje

Hy sê hy wil as ’n sterker speler terugkeer. Behalwe dat hy baie tyd in die gimnasium deurbring, loer hy gereeld by die Cheetahs se oefeninge in om raad te gee aan veral die jong spelers.

Hy kry nou ook die geleentheid om tyd saam met sy familie deur te bring, iets wat hom gewoonlik in ’n gewone rugbyseisoen nie altyd beskore is nie.

“Dit is belangrik dat ek in voeling bly met die span. Ek is by uitstek ’n spanman en ek moet ook tred hou met wat op die veld gebeur. Ek gaan nie haastig wees om my terugkeer te maak nie, ek wil 100% wees as ek die eerste keer speel.

“Maar, dit is vir my belangrik om deel van die oefeninge te bly, al kan ek nie saam met hulle op die veld wees nie. Ek wil nie wanneer ek weer kan saamoefen ’n klomp opvangwerk hê nie.”

Indien alles vlot verloop, sal Mohoje in Januarie weer kan begin hardloop.

Meer oor:  Oupa Mohoje  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.