Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oupa Mohoje ná jaar gereed vir rugby

Die Cheetahs se Springbok-flank Oupa Mohoje is ná meer as ’n jaar langs die kantlyn uiteindelik oorgehaal om weer rugby te speel.

Die 29-jarige Mohoje het dié goeie nuus Maandag bevestig. Hy het op 1 September 2018 knieligamente in die Pro14-wedstryd teen Munster in Limerick, Ierland beseer.

Oupa Mohoje, verlede jaar kort voor die Cheetahs se verstrek na Limerick, Ierland vir die span se eerste Pro14-wedstryd van die seisoen.Foto: Gallo Images

Dit het gevolg nadat hy as kaptein vir die reeks aangewys het, en toe net 13 minute gespeel het voordat sy seisoen tot halt geroep is.

Hy het boonop ook ’n terugslag beleef toe hy in Junie vanjaar saam met sy spanmaats begin oefen het. Hy het sy linker bobeenspier geskeur wat sy terugkeer tot die veld weer uitgestel het.

“Ek moet nog ’n fiksheidstoets deurkom, maar ek sal verkiesbaar wees vir die Cheetahs se eerste Pro14-wedstryd teen die Glasgow Warriors op 27 September in Bloemfontein,” sê Mohoje.

Die Curriebeker-eindstryd was ongelooflik en ek het ietwat jaloers gevoel dat ek nie kon speel nie.

Hy maak geen geheim daarvan nie dat die laaste jaar langs die kantlyn een groot frustrasie was.

“Hoewel frustrerend, is dit ongelukkig die realiteit wat my in die gesig gestaar het. Op my eerste dag terug op die oefenveld kry ek toe weer seer en die rehabilitasie begin toe van voor af.

“Nou gaan dit voor die wind met my. Ek druk my liggaam hard, want ek moet eenvoudig bybly by die res van die groep, veral as ek die span vir die eerste Pro14-wedstryd wil haal,” sê Mohoje.

Hy sê na die besering het hy agt kilogram aangesit.

Hy het dit deur die rehabilitasie weer afgeskud en is nou reg vir aksie.

Mohoje het die laaste tyd saam met die Curriebeker-groep geoefen en lyk fiks. Maar hy benodig wedstrydtyd.

“Die Curriebeker-eindstryd was ongelooflik en ek het ietwat jaloers gevoel dat ek nie kon speel nie. As ’n speler was dit lekker om te sien hoe goed die span vertoon, maar ek sou graag deel van die spel wou gewees het.”

Die Pro14-groep trek volgende Woensdag weer saam.

Hawies Fourie. Foto: Gallo Images

Met die nuwe breier Hawies Fourie wat aansterk na ’n prostaatoperasie, sal Franco Smith voortgaan om die span te brei vir ten minste die eerste drie wedstryde.

“Ek dink tog vir bestendigheid is dit ’n goeie ding. Die spelers ken Franco baie goed én ons begin die seisoen sommer met drie tuiswedstryde.

“Hopelik kan die span die goeie peil van die Curriebeker-reeks voortsit. Ons hou natuurlik duimvas dat vir Hawies dat hy gou weer op die been is.”

’n Optog met die Curriebeker word Dinsdag tussen 10:00 en 14:00 deur die strate van Bloemfontein gehou.

Daar sal volgende Vrydag geleentheid vir die publiek wees om te poseer saam met die Vrystaat-Cheetahs en die Curriebeker by die stadion.

* Die verwagting is dat die Cheetahs se nuwe aanwinste Maandag vir oefening sal aanmeld.

Die veelsydige agterspelers Craig Barry, Duncan Saal, Rhyno Smith en Chris Smit, die haker Wilmar Arnoldi en die flank Chris Massyn is van die nuwelinge.

Na wat verneem word. kan ’n handvol spelers van Griekwas soos die heelagter Anthony Volmink, die losskakel George Whitehead, die losvoorspeler Sias Koen en die stut Kwezi Mona as leenspelers betrek word.

Meer oor:  Oupa Mohoje  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.