Die Cheetahs se Springbok-flank Oupa Mohoje het Vrydag ’n geringe prosedure aan sy regterknie ondergaan, maar kan gou weer terug op die rugbyveld wees.
Die ongemak wat hy verduur het, blyk nie te ernstig te wees nie en die verwagting is dat hy oor ’n maand weer kan oefen.

Oupa Mohoje sal moontlik oor ’n maand terug wees op die rugbyveld nadat hy weer ’n prosedure aan sy knie moes ondergaan. Foto: Gallo Images
Die 29-jarige Mohoje het onlangs tydens oefeninge gevoel dat alles nie pluis is nie met die knie, wat hom al langer as ’n jaar langs die kantlyn hou.
Hy het in September 2018 in die Cheetahs se eerste Pro14-wedstryd van die seisoen teen Munster in Ierland kruisligamente geskeur en daarna ’n operasie ondergaan. Dit was ’n groot terugslag vir sy voorneme om verlede jaar die Springbokke se Wêreldbeker-groep te probeer haal.
Hy het die laaste ruk weer saam met die Cheetahs geoefen en was op dreef om terug te keer toe die knie begin lol het.
“Ek het ná ons oefeninge ongemak in my knie ervaar en dit het ook opgeswel,” het hy gesê nadat hy Woensdag by ’n spesialis was.
’n Skandering is gedoen en hy was Vrydag vlugtig op die operasietafel. Die knie is skoongemaak en na verneem word, sal hy oor vier weke weer kan begin oefen.
Die Cheetahs hervat die Pro14-reeks volgende Saterdag in die Baai met die eerste van hul twee derbies teen die Southerns Kings. Die spanne se herontmoeting is op 1 Februarie in Bloemfontein.
Die Cheetahs speel volgende maand ook drie toerwedstryde. Hulle kom in Ierland teen Leinster en Ulster te staan, waarna hulle die Dragons in Wallis pak.