Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oupa sê hy het nog baie om Bokke te bied

Ja, hy het meer as twee jaar laas mededingende rugby gespeel weens ’n kniebesering, maar hy het nog so baie om die Springbokke te bied, sê die Cheetahs se Springbok-flank Oupa Mohoje.

Hy verwys natuurlik na die spelersloting wat Vrydag plaasvind, waar die 93 spelers in ’n Groen- en in ’n Goud-span met 25 spelers elk gekies gaan word om op 3 Oktober in ’n Bok-proefwedstryd op Nuweland te speel.

Mohoje (30) was net soos die res van die rugbyondersteuners in die land verbaas oor sy insluiting in die groep, maar ’n terugkeer na die nasionale span is ’n moontlikheid, so hy gaan nie ’n gegewe perd in bek kyk nie.

Oupa Mohoje in 2018 tydens die Springbokke se oefening op Shimlapark in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

“Ek weet dis nog baie ver van Bok-rugby af, maar ek was baie verras toe ek uitvind ek het die groep gehaal, veral omdat ek so lanklaas gespeel het.

“Ek dink ek moet hieruit selfvertroue put, want ek kan ’n geleentheid kry om self te sien wat ek nog in my het en dit sal my ook in die Curriebeker-reeks help.”

Hy erken met sy insluiting in die groep vir die loting, kom daar ook meer as gewone druk, veral omdat hy vir ’n baie lang ruk glad nie by die spel betrokke was nie.

“Kyk, sou ek dit maak, gaan dit beteken ek is op die grootste verhoog in Suid-Afrika ná die inperking. Dis ’n bietjie angswekkend, maar ’n lekker uitdaging vir my, veral geestelik.”

Mohoje maak geen geheim daarvan dat hy brand om weer ’n Springbok-trui oor die kop te trek nie. Hy was in Junie 2018 laas by die Bokke betrokke en nog ’n proesel toetsrugby was nog altyd sy doelwit.

“Jy moet daardie trui egter verdien, dit word nie sommer op ’n skinkbord vir jou gegee nie. Ek kan nie wag om weer tot my volle potensiaal te speel nie.”

Mohoje het baie hard gewerk aan sy kondisionering nadat hy vroeër vanjaar ’n terugslag gehad het met dieselfde knie wat hy oorspronklik beseer het. Dit het uiteindelik sy terugkeer tot die veld in die wiele gery.

“Ek glo ek kan die Bokke nog baie bied. Ek wil glo ek kan die bal sterk dra en ek kan nog ook ordentlike duikslae uitvoer. Dit is so dat my werkverrigting nog kan verbeter, maar ek is nou op ’n goeie plek met my fiksheid.

“Nie net ek nie, maar die hele Cheetah-groep het hard gewerk die laaste ruk om seker te wees ons is wedstrydfiks wanneer ons tot die veld terugkeer,” sê Mohoje.

Hy en nog ’n Cheetah Walt Steenkamp tel onder die slotte in die groep van 93. Die loting vir die twee spanne van 25 spelers elk word Vrydag om 18:00 regstreeks op SuperSport Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN uitgesaai.

Meer oor:  Oupa Mohoje  |  Bokke  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.