SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Oupa voortaan slot vir Cheetahs

Die Cheetahs se Springbok-flank, Oupa Mohoje, wat meer as ’n jaar laas op die rugbyveld in aksie was, kan binnekort terugkeer, maar dié keer as slot.

Mohoje het aan die begin van die 2018-’19-seisoen – ná slegs 13 minute se speeltyd – sy kruisligamente in die Cheetahs se Pro14-wedstryd teen Munster in Limerick, Ierland, geskeur en het sedertdien nog nie weer gespeel nie.

Die Cheetahs se Oupa Mohojé word in April 2018 in Llanelli deur die Scarlets se Walliese stut Wyn Jones beetgekry. Foto: Getty Images

Nou, ’n jaar en twee maande later, lyk hy weer topfiks, maar hy het nog geen wedstrydtyd op sy kerfstok nie.

“Ek moet erken ek het baie lank laas slot gespeel, maar dis waar ek die laaste tyd geoefen het. As ek op slot moet terugkeer, dan doen ek dit. Dit gaan in elk geval oor die span, en nie oor my nie,” het Mohoje Maandag gesê.

“Ek is bereid om te speel waar ook al ek gekies word, en vir nou is ek gelukkig om op slot te speel,” sê Mohoje.

Daar is egter nog geen aanduiding wanneer hy weer sy eerste proesel rugby gaan kry nie. Die verwagting was dat hy teen die einde van die Curriebekerreeks op die veld sou wees, maar daarvan het dadels gekom. Hy was tot dusver geduldig en wag sy kans af.

“Jy het geen benul hoe ek brand om te speel nie. Ek is ’n rugbyspeler en om so lank uit te wees is nie lekker nie. Om myself nie te kan uitleef op die veld nie, is moeilik.

Ek is ’n rugbyspeler en om so lank uit te wees is nie lekker nie.
Oupa Mohoje

“Daar is nog werk wat gedoen moet, maar is ek oorgehaal om te speel.”

Mohoje en nog ’n flank, Aidon Davis, sal deur die afrigter, Hawies Fourie, op slot ingespan word. Hy het glo hierdie posisionele skuiwe op individuele vergaderings aan Mohoje en Davis oorgedra.

Wat die flanke betref, maak die Cheetahs tans gebruik van Junior Pokomela, Gerhard Olivier, Sias Koen, asook Marnus van der Merwe. Laasgenoemde het van ’n voetbesering herstel en oefen weer saam met die vergrote groep. Koen is ’n leenspeler van Griekwas en is net tot die einde van die Pro14-reeks vir die Cheetahs beskikbaar.

Dan het nog ’n flank, Chris Massyn, wat vanjaar vir die Stormers in die Superrugby-reeks gespeel het, hom ook onlangs by die Cheetahs met ’n kontrak van twee jaar aangesluit.

Dit kan waarskynlik een van die redes vir die slotskuif met Mohoje-hulle wees. Die Cheetahs beskik tans oor Sintu Manjezi, Walt Steenkamp en JP du Preez wat goed vertoon op slot. Dit sal ook nie skade doen om ’n jong speler soos Keenan Murray, wat vanjaar in die Varsitybeker- en SuperSport-uitdaagreeks gespeel het, te betrek nie.

Waar Mohoje voorheen ’n sekere keuse op flank vir die beginspan was, maak hy maak hom klaar vir ’n gestoei om plek in die 23-tal oop te speel.

“Soos almal, sal ek my plek moet verdien,” het Mohoje hieroor gesê.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Hawies Fourie  |  Oupa Mohoje  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.