Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Druk groter op blasers as spelers’

Dis onmoontlik vir ’n skeidsregter om alle beslissings reg te kry in ’n toets soos Saterdag s’n tussen die All Blacks en die Springbokke in Wellington.

“Jy wil egter die groot beslissings regkry,” het Nigel Owens, die blaser in dié Rugbykampioenskapstoets, gesê.

“Dié wat regtig saakmaak. Dié waarna mense kyk en sal sê hy kon dit nie misgekyk het nie. Dís die beslissings wat saakmaak.”

Nigel Owens het heelwat ervaring van toetse tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Owens het in ’n onderhoud met www.allblacks.com gesê daar is deesdae tien keer groter druk op die skeidsregters as op die spelers en afrigters.

In sy 32ste seisoen as ’n blaser is hy deur alle fases van tegnologie. Hy was daar in die begindae toe grensregters die eerste keer deur die vlag met die skeidsregter kon kommunikeer, tot nou waar blasers se foute op die grootskerms in die stadions herhaal word.

“Die grootste uitdaging nou is die druk wat die tegnologie op die skeidsregters plaas. Die druk op ’n skeidsregter is deesdae massief. Dis iets yslik.

“Spelers en afrigters word nou betaal vir wat hulle doen. Dis nou hul lewe en daar is groot druk op die spelers en die afrigters. Die druk op die skeidsregter is egter tien keer meer.

“In die verlede, toe rugby nog ’n amateursport was en tegnologie nog nie so ’n groot rol gespeel het nie, het mense gesê dis menslik as jy ’n fout gemaak het . . . die blaser het ’n fout begaan. Hulle het gesê die skeidsregter doen dit vir die liefde van die spel. Hulle het die skeidsregter se foute aanvaar.”

Deesdae is dit nie meer volgens Owens die geval nie. Skeidsregters mag nie meer foute maak nie, al is hulle volgens die Walliese blaser steeds mense en menslik.

“Die tegnologie plaas sonder twyfel bykomende druk op die skeidsregter. Wat ons almal wil hê, is dat die groot beslissings reggekry moet word. Tegnologie help jou daarmee.

“Dis weens die tempo van wedstryde menslik onmoontlik vir jou as skeidsregter, of as ’n span van drie wedstrydbeamptes, om alles die eerste keer reg te kry. Het sy voet byvoorbeeld die kantlyn geraak net voordat hy die bal kon plaas vir sy drie? Tegnologie help jou daarmee.

“Maar daar is nou weens tegnologie die verwagting by die toeskouers, spelers en afrigters dat die skeidsregters alles sal raaksien en regkry. As ’n mens dit wil vermag, sal wedstryde voortdurend moet stop en begin. Daar sal dinge wees wat jy moet verwys na die TV-skeidsregter om dit reg te kry.”

Owens meen die grootskerms in stadions het die druk laat verdubbel op die skeidsregter.

“Nog so onlangs as vyf jaar gelede sou jyself, die ondersteuners, afrigter en die spelers nie in toetse geweet het as jy ’n fout gemaak het voordat hulle agterna na ’n video-opname van ’n wedstryd gekyk het nie.

“As jy nou ’n fout maak, word dit op die grootskerm in die stadion herhaal. Almal sien die fout. Die spelers, die afrigters en die ondersteuners in die stadion. Jyself as skeidsregter kan ook op die grootskerm sien jy het daardie beslissing verkeerd gekry.

“Die druk wat dit die volgende 60 minute op jou plaas in daardie wedstryd is yslik.

Die Wallieser Nigel Owens is Saterdag die fluitjiedraer in die Springbokke se toets teen die All Blacks in Wellington. Foto: Getty Images

“Al wat jy dan kan doen, is om sterk te wees as ’n skeidsregter. Jy moet dit eenvoudig vergeet. Jy moet vir jouself sê ek het ’n fout gemaak, maar moet aanbeweeg. Jy moet die res van die wedstryd blaas sonder dat daardie fout jou beïnvloed. Dis massiewe druk en ’n groot uitdaging.”

Verkeerde beslissings kan ’n onervare skeidsregter wat homself nog nie in daardie posisie bevind het nie, beïnvloed.

“Jy kan egter nie later daardie blaps probeer regstel nie, anders is dit die einde van jou as ’n skeidsregter. Jy moet van daardie blaps vergeet. Dit plaas groot druk op jou.

“Die spelers kan yslike druk op jou plaas, want hulle weet jy het daardie beslissing verkeerd gekry. Jy moet bo dit als uitstyg. Daar is sekere beslissings wat jy nie volgens protokol mag verwys nie. Jy moet dan aanbeweeg.

“Tegnologie help, maar dit het ’n verwagting geskep dat skeidsregters alle beslissings moet regkry. As jy dit wil hê, moet die skeidsregter in ’n losie sit en die wedstryd elke 30 sekondes stop om ’n besluit te maak.”

Die 47-jarige Owens is die mees ervare skeidsregter in wêreldrugby. Hy blaas Saterdag sy 83ste toets. Hy was al by 16 toetse van die Bokke betrokke, waarin die Suid-Afrikaners nege gewen het.

Owens was ook die skeidsregter toe die All Blacks die Bokke verlede jaar met 57-0 in Albany verniel het.

Hy is nog tot in Junie 2020 deur die Walliese Rugbyunie as ’n professionele skeidsregter gekontrakteer, waarna hy ’n besluit sal neem of hy sy fluitjie sal wegpak.


Meer oor:  Nigel Owens  |  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.