Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Owens gaan nog nie sy fluitjie wegpak

Om die “vinnige en verwoede” kragmeting tussen die All Blacks en Engeland in die halfeindronde van die Wêreldbeker-rugbytoernooi te hanteer, het Nigel Owens oortuig dit is nog nie tyd om sy fluitjie weg te pak nie.

Die 48-jarige Owens, ’n Wallieser wat alom as die beste skeidsregter ter wêreld beskou word, het in sy rubriek vir Wales Online geskryf “dat ek slegte nuus het vir diegene wat hoop ek is klaar”.

Nigel Owens tydens die halfeindstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland in die Wêreldbeker-toernooi in Japan. Foto: Getty Images

Tog erken hy dat 2023 se toernooi in Frankryk dalk ’n treetjie of twee te ver vir hom is.

“Maar wat ek gaan doen is om aan te hou om ’n skeidsregter te wees en te sien hoe my vertoning is.

“Ek gaan nie ophou terwyl ek tevrede is met die manier waarop ek my werk verrig nie, wanneer my vertoning onder die vergrootglas geplaas word en dit wys dat ek steeds goed is nie,” sê Owens.

Hy is sedert 2003 ’n toetsskeidsregter en sê hy glo ervaring tel, “maar in so baie beroepe word diegene met baie myle op die klok maklik afgeskryf”.

Die skouspel in Japan was Owens se vierde Wêreldbeker-toernooi. Hy kon weens ’n dyspierbesering nie vir die eindstryd oorweeg word nie.

Ek gaan nie ophou terwyl ek tevrede is met die manier waarop ek my werk verrig nie.
Nigel Owens

Owens sê indien die halfeindstryd tussen die Engelse en die All Blacks sy swanesang in ’n wêreldtoernooi is, dan berus hy hom daarby.

“Ek kan aan slegter maniere dink om die groot verhoog te verlaat. Dit was ’n klassieke, vinnige, verwoede en opwindende reis van die begin af.

“As ek ’n ondersteuner was, sou ek dit vir niks wou misloop nie. As ’n skeidsregter was ek bevoorreg om daarby betrokke te wees,” sê Owens.

So hoog word hy in rugbykringe aangeslaan dat Steve Hansen, die uitgetrede All Black-afrigter, gesê het hy sou in sy noppies gewees het as Owens al drie toetse tussen die Kiwi’s en die Britse en die Ierse Leeus in 2017 hanteer het.

Ná daardie wedstryd in die halfeindstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland het Owens gesê hy het ’n traan gepink toe die spanne se kapteins, Kieran Read en Owen Farrell, die wedstrydbal vir hom geteken het. – stuff.co.nz

Meer oor:  Wallis  |  Wêreldbekerrugby  |  Rugby  |  Nigel Owens  |  Skeidsregter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.