Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Owens wik en weeg oor uittrede

Nigel Owens oorweeg dit nog of hy aan die einde van die huidige seisoen gaan uittree, al dan nie.

Hoeveel seisoene gaan Nigel Owens nog op rugbyvelde gesien word? Foto: Getty Images

Dié 48-jarige Wallieser – wat Saterdag die eerste keer in sy loopbaan ’n wedstryd hanteer het waarin Wallis se nasionale span gespeel het (nadat Wêreldrugby daarvoor toestemming gegee het) – het aan Channel 4 Sport in ’n onderhoud ná dié wedstryd teen die Barbarians gesê hy is nog onseker oor wat die toekoms vir hom inhou.

Owens, wat as die wêreld se voorste skeidsregter beskou word, sê hy het tot die Sesnasies-reeks volgende jaar om ’n finale besluit te neem, berig rugbypass.com.

“Ek gaan nog vir ’n tydjie blaas. Hopelik sal ek by die Sesnasies-reeks betrokke wees en dan sal ek bestekopname doen.”

Owens het dit laat deurskemer dat hy moontlik nog ’n seisoen lank die fluitjie sal dra.

“Terwyl ek dit steeds geniet, maar belangriker, terwyl ek nog my werk goed genoeg kan doen, sal ek voortgaan.

“Ek weet eerlikwaar nie wanneer die regte tyd sal wees om uit te tree nie. Dit sal nie meer lank wees nie.”

Owens was nog altyd ontwykend oor sy uittrede. In 2016 het hy onthul hy voel hy het nog drie jaar in hom oor en dat die Wêreldbeker-toernooi in 2019 sy swanesang kan wees.

Ek weet eerlikwaar nie wanneer die regte tyd sal wees om uit te tree nie. Dit sal nie meer lank wees nie.
Nigel Owens

Dié blaser, wat die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi in 2015 behartig het, is weens ’n besering nie oorweeg vir verlede maand se WB-eindstryd nie, met Jérôme Garcès wat dit toe behartig het.

Owens was die eerste Wallieser om die skeidsregter te wees in ’n wedstryd waarin sy tuisland speel, sedert Derek Bevan in 2000, ook teen die Barbarians.

Die Wallieser se kwinkslae – sowel as sy vryvloeiende manier van wedstryde hanteer – het van hom ’n bekende in onlangse jare gemaak.

Hy het in ’n paar tong-in-die-kies-advertensies verskyn in die aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi, wat gesinspeel het op sy humoristiese benadering tot die spel. – Sportredaksie

Meer oor:  Nigel Owens  |  Skeidsregter  |  Wallis  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.