Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pa se ‘trane loop’ oor nuwe Blitsbok Ronald
Ronald Brown aan die sweet op die oefenveld saam met die Blitsbokke. Foto: Eunice Visagie

Trane van blydskap het vandeesweek in Montagu geloop toe Ronald Brown, wat in 2019 nog teen kanker geveg het, se familie gehoor het dat hy vir die Blitsbokke gekies is.

Brown (25) is in die nasionale sewesspan ingesluit, wat in Februarie in twee toernooie in Spanje gaan deelneem. Dít nadat Hodgkins-limfoomkanker vroeg in 2019 by hom gediagnoseer is en hy sy rugbyloopbaan op ys moes plaas.

“Ons is ongelooflik trots dat hy vir die Blitsbokke gekies is, dit is werklik ’n vreugde. Sy ma (Anita) en susters (Ronita America en Menechia Brown) wil bars van opgewondenheid,” sê Brown se pa, ook Ronald.

“Soos wat ek hier praat, loop die trane. In die tyd toe hy siek was, het ons baie vir hom gebid en probeer ondersteun waar ons kon. Ronald het nogal Dinsdag gebel en gevra of ons die berig (oor sy insluiting in die Blitsbok-span) in die koerant gesien het. Toe stuur ek eers sy suster dat sy een gaan koop.”

Reeds as jong seun in Montagu het Brown ’n liefde vir die ovaalbal gehad – aanvanklik as baljoggie by die plaaslike klub.

“Vandat hy jonk was, was hy ’n woelwater wat baie goed in rugby gevaar het. Toe hy op hoërskool was, het hy ook belangstelling in krieket getoon,” sê Ronald.

“Ek het self rugby vir die plaaslike klub gespeel, dan het hy altyd saamgegaan na die oefeninge en was sommer ook die baljoggie.”

Ronald Brown duik oor die doellyn vir die Universiteit van Johannesburg in ’n Varsitybeker-wedstryd teen die Shimlas in 2016 in die Goudstad. Foto: Deaan Vivier

Wat is volgens Ronald sy seun se sterkpunt?

“Beslis dat hy ’n aanhouer is. Ek onthou toe hy klaargemaak het met skool, was hy net 18 toe hy in Johannesburg gaan studeer het.

“My woorde aan hom daardie dag toe hy uit die huis is, was: ‘Staan jou man.’ En hy het, reeds in sy eerste jaar op universiteit het hy goed op die rugbyveld presteer,” sê Ronald.

“Daardie tyd (toe Brown studeer het), wanneer hy my gebel en soms gekla het oor borspyn, dan sê ek vir hom hy moet ’n Grand-Pa of Disprin neem. Toe hy klaar was op universiteit het hy by die sewesakademie aangemeld en dit was daar dat hulle ontdek het wat fout is.”

Ook Brown se oudste suster, Ronita America, is dankbaar dat hy vir die Blitsbokke gekies is. Juis omdat sy onthou hoe hy tydens sy behandeling steeds gesweet het om fiks te bly.

“Wat van Ronald uitstaan, is dat hy baie positief is. Hy het altyd geglo dat hy ’n Blitsbok gaan word. In die tyd toe hy chemoterapie ontvang het, het hy die dae wat hy nie te siek was om op te staan nie steeds geoefen. Dit was omdat hy in sy droom geglo het,” sê America.

Het Brown ooit in die tyd toe hy siek was gedink dat sy droom om ’n Blitsbok te word nie bewaarheid gaan word nie?

“Nie vir ’n oomblik nie, ek wou ’n Blitsbok word en sou alles doen om gekies te word. Die afrigtingspan het my baie gehelp om so vinnig as moontlik terug op die veld te kom,” sê Brown.

“My familie en vriende se ondersteuning het ’n groot rol gespeel. Nou wil ek net my droom uitleef en so veel as moontlik leer.”

Meer oor:  Sewes  |  Ronald Brown  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.