Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Paarl Gim, Oakdale baljaar by Affies
Paarl Gimnasium se heelagter Janeil Losper rond alla Jaque Fourie in die hoekie af teen Hoërskool Garsfontein.Foto: Frans Lombard

Om net vyf dae ná die hervatting van skolerugby die voorste span in die land te kies klink dalk waansinnig – maar dis hoe vroeg in die seisoen Paarl Gimnasium reeds hul kleim afsteek vir dié nieamptelike titel.

Gimmies het sy merkwaardige oorwinning oor Grey-kollege Dinsdag opgevolg met kuikenmoord teen die Hoërskool Garsfontein, toe hy die Pretorianers met 84-0 geslag het op die eerste dag van die Noord/Suid-toernooi by die Afrikaanse Hoër Seunskool.

Die Paarliete het nie minder nie as 12 keer agter die doellyn gedraai. Daarby het hul losskakel, Liam Koen, ’n manjifieke skopvertoning gelewer.

Louis Koen.

Koen se pa is die voormalige Springbok-losskakel Louis Koen – en dit was Dinsdag duidelik dat die appel in dié geval nie ver van die boom geval het nie. Die jong Koen het 27 punte tot die Gimmies-saak bygedra. Dit het ’n drie ingesluit.

Dié Gimmies-span was ongenadig op die aanval en rotsvas op die verdediging. Hulle gaan vanjaar nog verskeie harte breek.

Die senterpaar van JW Ellis en PA van Niekerk het nie ’n tweede uitnodiging doellyn toe nodig nie, terwyl die haker Luca Bakkes en stutte Corné Lavagna en Frankie dos Reis voorlangs woel.

• Die Hoër Landbouskool Oakdale het geskiedenis gemaak met sy eerste sege ooit oor die gasheer.

Die manne van Riversdal het Affies ’n deeglike pak slae van 46-21 gegee.

Oakdale, wat geoormerk is om vanjaar ook een van die groot kanonne te wees, het gewys waarom hy só hoog geag word.

Drieë deur Paul de Villiers, Enrique Arendse, Matthew Golden en Morné Els het die besoekers met rustyd reeds met 29-9 in die saal gehad.

Affies se hantering en onvermoë om af te rond het hulle in die steek gelaat, maar Oakdale verdien ook ’n pluimpie vir die wyse waarop hulle verdedig het.

Daarna het Keagan Coerecius en Johan Balt, tesame met die skopskoen van Neil le Roux, die sout verder in die wonde gevryf.

Affies se hantering en onvermoë om af te rond het hulle in die steek gelaat, maar Oakdale verdien ook ’n pluimpie vir die wyse waarop hulle verdedig het.

• Damian Markus van Hoërskool Stellenberg het in die doodsnikke onderskep en vir Chad van Wyk weggestuur om die Hoërskool Monument van Krugersdorp se doppie te klink.

Stellenberg het met 34-33 vir ’n opskudding gesorg.

Dit nadat hy vroeg in die eerste helfte reeds met 19-0 voor was, voordat ’n verwoede aanslag deur Monnas die Gautengers se neuse met 26-22 voor gekry het. Van daar het ’n wipplankstryd hom afgespeel.

Stellenberg se senterpaar van Markus en Jacquin Jacobus was giftig, terwyl Monnas se loskopstut Jan-Hendrik Bessenger en hul agtsteman Tiaan Wessels soos besetenes gespeel het.

• Die Hoërskool Dr. EG Jansen het dit twee uit twee gemaak deur Welkom Gimnasium met 38-7 te slag.

Met die flank Werner Groenewald en die haker Kyle Pepler wat voorlangs uitgeblink het, het die Jansies amok gemaak.

Dit het gelyk of Welkom Gimnasium se bene nog swaar was ná hul vegtersbeurt in die eerste helfte teen die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) die afgelope naweek.

Woensdag se bepalings is:

08:15: Marais Viljoen 2de span t. Durbanville 2de span

09:30: Noordheuwel 2de span t. Hoër Jongenskool Paarl 2de span

10:45: Helpmekaar 2de span t. Outeniqua 2de span

12:00: Menlopark 2de span t. Grey-kollege 2de span

13:15: HTS Middelburg t. Duineveld

14:30: Marais Viljoen t. Durbanville

16:00: Noordheuwel t. Hoër Jongenskool Paarl

17:30: Helpmekaar t. Outeniqua

19:00: Menlopark t. Grey-kollege.


Meer oor:  Louis Koen  |  Paarl  |  Pretoria  |  Skolerugby  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.