Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Blitsbokke motiveer Keniane'
Die Blitsbok Impi Visser probeer Alvin Otieno van Kenia in Januarie in Hamilton, Nieu-Seeland, beetkry. Foto: Getty Images

Juis omdat Kenia se sewesrugbyspelers bewondering en respek vir die Blitsbokke het, maak dit dat dié span altyd sy beste voetjie voorsit wanneer hy teen Suid-Afrika te staan kom.

Dít is die mening van Jerome Paarwater, wat goed met rugby in Kenia vertroud is. Hy was tussen 2012 en 2017 die afrigter van dié land se vyftienman-span.

Die Keniane is die Blitsbokke se eerste teenstanders in die Los Angeles-sewestoernooi wat Saterdag begin. Dit is die vyfde toernooi in vanjaar se Wêreldreeks.

Boonop sal dit die vierde keer hierdie seisoen wees wat dié twee spanne mekaar pak. Die Keniane het die Blitsbokke vroeër vanjaar in Hamilton, Nieu-Seeland oortuigend met 36-14 in ’n groepwedstryd geklop. Daardie dag het Kenia ’n fisieke vertoning opgedis en ses drieë gaan druk.

Suid-Afrika was in die ander twee wedstryde tussen die twee spanne baas.

Hulle (Kenia) sal omtrent swak speel teen enige span, behalwe Suid-Afrika. Hulle bewonder die Blitsbokke en is juis daarop uit om teen hulle te wen.
Jerome Paarwater

“Hulle (Kenia) sal omtrent swak speel teen enige span, behalwe Suid-Afrika. Hulle bewonder die Blitsbokke en is juis daarop uit om teen hulle te wen.

“Juis omdat hulle soveel agting vir Suid-Afrika het, veroorsaak dit dat hulle baie gemotiveerd vir sulke wedstryde is,” sê Paarwater.

Hy sê hy het in sy tyd in Kenia ’n werkywer teëgekom onder die land se rugbyspelers wat ’n groot indruk op hom gelaat het.

“Ek onthou as ons oefeninge om 07:00 was, het baie van die spelers reeds om 04:00 opgestaan om betyds te wees. Die verkeer rondom die stede is baie druk, so dit vat baie lank om daar uit te kom.

Jerome Paarwater is goed vertroud met Keniaanse rugby. Foto: Getty Images

“Die spelers daar is baie taai omdat hulle oor die algemeen swaar grootgeword het en dus goed wil vertoon. Hulle leef ook oor die algemeen gesonder, aangesien hulle dieet uit baie groente en vrugte bestaan,” sê Paarwater.

Hy rig deesdae die Westelike Provinsie se span in die SuperSport-uitdaagreeks en ook die o.21-span af en is ook verantwoordelik om plaaslike talent in klubrugby te identifiseer.

Vir Kenia se afrigter, Paul Feeney, wat voorheen deel van die Stormers se afrigtingspan was, sal dit boonop ’n ekstra motivering wees om weer die Blitsbokke se sterte te probeer knoop.

Die Keniane, wat as Afrika-kampioen aan vanjaar se Olimpiese Spele gaan deelneem, het ’n aantal wedstrydwenners soos Collins Injera, Andrew Amonde en Willy Ambaka in hul geledere. Hulle sal meer as gewillig wees om Feeney se opdragte tot op die letter uit te voer.

*Kenia se sewesrugbyspan in sy volle glorie: 

Meer oor:  Kenia  |  Suid-Afrika  |  Wereldreeks  |  Blitsbokke  |  Rugby  |  Sewesrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.