Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Paige neem glo Faf se plek in Bok-span
Rudy Paige is glo in die binnebaan om Saterdag die Springbokke se nr. 9-trui te dra. Foto: Gallo Images

Hy het dié seisoen nog skaars 20 minute speeltyd gekry in sewe toetse, maar Rudy Paige is glo die gunsteling om Saterdag die Springbokke se nr. 9-trui te dra.

Dít is die jongste aanduiding uit die Bok-kamp in die aanloop tot Saterdag se stryd in Rugbykampioenskap teen Australië op Loftus Versfeld.

Daar is vroeër bespiegel dat Francois Hougaard op skrumskakel by Faf de Klerk kan oorvat, maar Allister Coetzee, die Springbok-afrigter, sal oënskynlik vir Paige vra om agter die pak skoon te maak.

Dit sal die eerste keer wees wat die 27-jarige Riversdaller, wat verlede jaar sy debuut by die Wêreldbeker-toernooi in Engeland gemaak het, in die beginspan ingesluit word.

Die besluit sal as ’n waagstuk beskou word aangesien Paige vroeër die seisoen gesukkel het met sy peil en sedert Junie weinig speelkans gekry het in die Groen-en-Goud.

Coetzee sou hom een of ander tyd ’n billike kans moes gee, maar die Springbokke is onder groot druk ná hulle droewige poging in Australasië teen die Wallabies en die All Blacks.

Paige is verlede week vrygestel om vir die Blou Bulle diens te doen in die Curriebeker-reeks, maar hy is aanvanklik oor die hoof gesien vir die Ligbloues se kragmeting met die Boland in Wellington.

Hy is toe ter elfder ure ontbied om op die Bulle se plaasvervangersbank te sit nadat André Warner hom weens ’n enkelbesering onttrek het.

Hy het Piet van Zyl kort ná rustyd vervang en dit is die meeste rugby wat Paige in ’n lang ruk gespeel het.

Morné Steyn doen Dinsdag kragwerk by Hoërskool Fourways se buitenshuise gimnasium. Steyn gaan dalk Saterdag terugkeer na die Bokke se beginspan. Foto: Gallo Images

Dié skrumskakel, wat bekend is vir sy gladde mond op die veld, het tot dusver in die Bokke se sewe toetse net twee keer enkele minute van die bank af kans gekry.

Coetzee sal nietemin hoopvol wees dat Paige flink agter die agttal sal wees op sy tuisveld.

Dit blyk ’n uitgemaakte saak te wees dat die voormalige Bulle-losskakel Morné Steyn sy skakelmaat sal wees ten koste van Elton Jantjies.

Willie le Roux kan op heelagter in Johan Goosen se plek ingesluit word.

Met Pat Lambie weer op sy pos, sal Goosen en Jantjies in alle waarskynlikheid uit die 23-tal weggelaat word.

Dit sal ook Faf de Klerk se lot wees, sou Coetzee weer besluit om nie ’n skrumskakel op die bank te kies nie.

Daar behoort nie veel veranderings voorlangs te wees nie.

Julian Redelinghuys is weer beskikbaar en die Bokke se breintrust sal gretig wees om die vaskopstut te ontplooi op Loftus.

Die Springbok-span word Donderdagmiddag om 13:00 aangekondig.

Meer oor:  Bokke  |  Rudy Paige  |  Wallabies  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.