Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Paleisrevolusie kom in WP-rugby
Paul ZacksFoto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) en Paul Zacks, sy uitvoerende hoof, se paaie gaan skei.

Gerugte dat Zacks afgedank is het die afgelope week soos ’n veldbrand in die Kaapse rugbygemeenskap versprei, maar is Vrydag nog deur Zelt Marais, die WPRU se president, ontken.

Zacks was Vrydag op kantoor, maar dit was waarskynlik sy laaste dag.

Die WP open op 6 Januarie weer sy deure en Netwerk24 het betroubaar verneem dat ’n stuurkomitee die unie se sake gaan behartig tot tyd en wyl ’n nuwe uitvoerende hoof gevind kan word.

Marais en drie ander beamptes gaan glo die skip stuur.

Daar is Vrydag deur sarugbymag.co.za berig dat die WPRU se direksie vir Zacks op 4 Desember ’n e-pos gestuur het met beweringe dat hy meineed gepleeg het in sy getuienis in ’n art. 417-ondersoek oor die likwidasie van die unie se sakevleuel in 2017. Hy is tot Donderdag gegee om daarop te antwoord.

Die WP sit sedert Januarie al met die verslag oor die bevindinge van die art. 417-ondersoek.

Zacks wou nie Vrydag kommentaar lewer nie.

Volgens Netwerk24 se bronne was Zacks veral kwesbaar omdat die finansiële omkeerstrategie wat hy in 2016 voorgelê het, nie vrugte afgewerp het nie. Die WPRU se finansiële jaar eindig in Desember en daar’s sprake van ’n verlies van sowat R40 miljoen.

Zelt MaraisFoto: Gallo Images

Marais het in ’n toespraak Dinsdag op die WPRU se prysuitdeling 2019 beskryf as die “moeilikste tot nog toe in terme van die WP-groep se finansies”. Zacks is die groep se uitvoerende hoof, wat beteken dat hy sowel die unie as die sakevleuel dien.

Daar is nou vir die eerste keer eenstemmigheid onder invloedryke lede van die sakevleuel én die amateurarm dat hy die trekpas moet kry.

Zacks, wat dikwels met Marais koppe gestamp het, kon in die verlede staatmaak op steun by die sakevleuel.

* In Wellington is Ivan Pekeur, die Boland Rugbyunie (BRU) se president, in die visier van die vakbond Sport Employees Unite (SEU).

Die SEU het in ’n nuusverklaring gesê dat hy dispuut met die BRU verklaar het.

Daar word aangevoer dat personeel nie 13de tjeks ontvang het nie – ondanks maandelikse belastingaftrekkings daarvoor. Die SEU sê ook dat personeel die afgelope paar weke “gedreig” word.

“Die dreigemente sluit in dat geld van hul salaris afgetrek sal word vir oortydwerk en verlof wat nie goedgekeur is nie,” voer die SEU aan.

Piet HeymansFoto: Gallo Images

Cliffie Booysen, ’n werknemer, was volgens die SEU ook ’n slagoffer van onbillike ontslag.

Pekeur het volgens die SEU ’n groot aandeel in dié probleme.

“Die manier waarop hierdie kwessies deur Pekeur hanteer is, dui op ’n totale miskenning van goeie arbeidsverhoudinge en toepaslike arbeidswette,” sê Piet Heymans, uitvoerende hoof van die SEU.

“Ons het nie antwoorde ontvang op talle briewe aan mnr. Pekeur en sy raad nie. Dit laat ons met geen ander keuse nie as om die kwessie na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie te verwys.”

Hy meen ook Pekeur en sy raad behoort verantwoordelikheid te neem vir die “ernstige finansiële probleme” wat die BRU ervaar.

Pekeur het nie op spesifieke aantygings kommentaar gelewer nie, maar wel prontuit in ’n WhatsApp-boodskap gesê dat die BRU “gereed” is vir die stryd teen die SEU.

Ivan PekeurFoto: Foto24

“Ek het my nog nooit aan Piet Heymans gesteur nie. Hoekom sal ek dit nou doen? Hy kan seker doen wat hy wil, maar daar sal reaksie wees en hy sal spyt wees dat hy met die Boland probeer mors het,” sê Pekeur.

“Ons is gereed vir Heymans en sy vakbondjie.”


Meer oor:  Zelt Marais  |  Wp Rugbyunie  |  Wp  |  Paul Zacks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.