Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pat gee Haaie skop vir 2020 se Superreeks

Minder as ’n jaar nadat hy weens harsingskudding sy rugbystewels moes bêre, is die oud-Springbok Patrick Lambie terug op die rugbyveld – dié keer as mentor, skopafrigter en konsultant.

Lambie het ’n pos aanvaar as die Haaie se skopafrigtingskonsultant vir volgende jaar se Superreeks.

Hy het tans geen planne om ’n heeltydse afrigter te word nie. Hy meen die deeltydse konsultasiepos sal hom soos ’n handskoen pas.

Patrick Lambie
Patrick Lambie.

“Vir nou sien ek myself meer as ’n konsultant. Ek en my vrou spot, en ek het ’n belofte aan haar gemaak toe ek nog gespeel het dat ek nie ’n afrigter gaan word nie, veral weens die stres wat afrigters ervaar. En nou raak ek weer betrokke,” sê hy en lag.

“Jy weet nooit wat kan gebeur nie, maar ek is tans opgewonde om weer betrokke te raak en weer by die span te wees, en hopelik kan dit vir ’n lang tyd voortduur.”

Maar in ’n onderhoud met Rapport het hy laat blyk hy het getwyfel of hy na King’s Park moes terugkeer. Hy en sy vrou, Kate, het lank daaroor gewik en geweeg.

“Ons het ons kwellings oor die besluit gehad, en dit is ’n goeie geleentheid. Maar ons was ’n bietjie bekommerd dat dit miskien te gou is, veral omdat dit eintlik minder as ’n jaar is sedert ek moes uittree.

“Ons het wel altwee saamgestem dat dit deel van die genesingsproses is en dat dit goed vir my sal wees. My vrou verstaan goed, en is ongelooflik ondersteunend en glo saam met my vas dit is ’n goeie geleentheid.

“Dit is nie heeltyds nie, en dit is ’n goeie manier om iets terug aan die spel te gee – en om daai rugbysirkelgevoel weer reg te kry.”

Sy rol sal hoofsaaklik as skopafrigter wees, maar Lambie sal ook die jong spelers soos Boeta Chamberlain, Curwin Bosch en Jordan Chait mentor om beter spelers te word.

“My posisie is meer as ’n konsultant, meer ’n mentor as ’n afrigter. Ek is nie heeltyds nie, maar sal baie tyd saam met die manne deurbring en my insette gee ten opsigte van taktiese skop.

“Die opwindendste ding vir my is om weer terug by die Haaie te wees, ’n span vir wie ek lief is, en om meer tyd saam met die spelers te kan deurbring, veral die jonger opwindende spelers, en ek kan hulle hopelik help.”

Lambie sê hy sal sy ondervinding graag met die spelers deel.

“Ek sal verhoudings met hulle moet bou en tot hulle moet deurdring om hulle te verstaan. Dan kan ek aspekte met hulle deel wat ek as ’n speler gebruik het en wat ek oor die jare by verskillende spelers en spanne geleer het.

“Dit is deel van die rol waarna ek regtig uitsien en ek is baie opgewonde daaroor.”

  • Intussen het die Haaie ook besluit om die voormalige Bok-kaptein Gary Teichmann, wat ook al die unie se uitvoerende hoof was, as ’n mentor te betrek.

Die Haaie se afrigtingspan is onervare in Superrugby en daar is ’n hele klomp jong spelers in die groep. Hulle gaan dit ook moeilik hê aan die begin van die Superreeks – eers ’n wedstryd teen die Bulle en dan ’n toer van vier weke lank. Daarom sal die ondervinding van onskatbare waarde wees.

Etienne Fynn is as die skrumafrigter aangestel en die SA Skole A-span se afrigter, Phiwe Nomlomo, as ’n hulpafrigter. Nomlomo word beskou as een van die opkomende afrigterstalente in die land.

Meer oor:  Haaie  |  Superreeks  |  Patrick Lambie  |  Harsingskudding  |  Oud-Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.