Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ivan Pekeur: ‘Spelers het nie kontrak’

Die salaristwis tussen die Boland Rugbyunie (BRU) en sy spelers het die afgelope week verdiep met Ivan Pekeur, BRU-president, wat volhou slegs een speler is deur die unie gekontrakteer.

Ivan Pekeur
Ivan Pekeur, president van Boland Rugbyunie.

Volgens Pekeur het die 12 spelers wat op hul salarisse aandring, geen geldige kontrakte nie.

’n Hoë amptenaar in die administrasie van die BRU het in ’n skrywe aan die spelers na die situasie as ’n “deurmekaarspul” verwys.

Boland het nou tot Dinsdag om antwoorde te verskaf aan die spelersvakbond MyPlayers.

Die Boland-spelers eis hul salarisse wat nie vir Maart, April en Mei betaal is nie.

Die spelers se vervoergeld vir Februarie is volgens hulle ook nog uitstaande.

Die BRU en die spelers sal Dinsdag vergader om die twis te bespreek.

MyPlayers meen dat die 12 spelers geldige kontrakte met die BRU het, terwyl Pekeur sê dit is nie die geval nie.

Rapport is ook in besit van ’n boodskap wat Zenique Samuels, assistentbestuurder: finansies van die BRU, aan spelers gestuur het om Dinsdag ’n vergadering by te woon.

“Die president en spelers, wat hierdie brief van voorneme ontvang het, saam met die afrigtingspan, ontmoet Dinsdag 02 Junie 2020 om 11:00 te Bolandstadion, Wellington, om die deurmekaarspul wat ontstaan het te bespreek,” lui die boodskap.

Volgens Rapport se inligting is kontrakte met die spelers op ’n soortgelyke wyse as die afgelope ses seisoene aangegaan.

“Die unie teken die aanbiedinge, gee dit vir die afrigter, wat dit vir die spelers gee. Die spelers besorg dit terug aan die afrigter. Dis hoe dit altyd gewerk het,” het ’n ingeligte aan Rapport gesê.

Die kontrakte is aan Boland se afrigter, Randall Modiba, gegee en hy het dit aan die spelers gegee. Dit is volgens Rapport se inligting deur die spelers geteken en aan Modiba teruggegee.

Die volgende dag is aan Modiba gesê die unie gaan nie voort met die kontrakte nie.

Die spelers is glo nie oor die besluit ingelig nie. Modiba het nie op Rapport se navrae oor die kwessie gereageer nie.

Boland het die beste klubkompetisie in die land, ons is leiers in transformasie en spelers van die unie speel die wêreld vol.

Volgens Mandisi Tshonti, bestuurder van spelersaangeleenthede by MyPlayers, het Boland nog tot Dinsdag om hulle te antwoord.

Pekeur skryf in ’n brief aan die Bolandse klubs hy is “jammer om julle tyd te mors met onsin” oor die kontrakbeweringe en sê die “waarheid word altyd verdraai om sensasie te skep en mense te laat sleg lyk”.

Die blyk dat Pekeur glo die spelers het nie hul briewe van voorneme binne die vereiste tyd aan die unie terugbesorg nie. “Dit is vandag al 26 Mei 2020 en ons het nog geen brief van enige speler terugontvang nie . . .

“Die spelers moet maar self verduidelik wat hulle met die briewe gemaak het. Dit is nie in my kantoor nie en ook nie by ons finansiële kantoor nie. Ons kan ongelukkig nie spelers betaal wat nie ons aanbod aanvaar het nie.”

Volgens Pekeur is net een speler – Gurshwin Africa – by die unie gekontrakteer.

“Diegene in die unie (s.g. Bolanders) wat die lang messe vir my, die bestuur en direksie uit het, weet klaarblyklik ook niks van die prosedures nie.

“Mense kryt my en die bestuur uit as skelms wat nie weet hoe om te administreer nie, maar Boland het die beste klubkompetisie in die land, ons is leiers in transformasie en spelers van die unie speel die wêreld vol.”

Pekeur het nie op enige navrae van Rapport gereageer nie.

Meer oor:  Salarisse  |  Ivan Pekeur  |  Boland Rugbyunie  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.