
Petrus du Plessis gaan dalk binnekort die Wallabies die fynere kunsies van skrumwerk leer. Hier is hy gedurende sy tyd by Saracens. Foto: Getty Images
As dit van die Wallabies se breier, Dave Rennie, afhang, sal daar binnekort ’n gebore Suid-Afrikaner op sy afrigtingspan wees.
Rennie hoop om die voormalige stut Petrus du Plessis (39), ’n boorling van Hermanus, te oorreed om die skrumafrigter van die Australiese nasionale rugbyspan te word.
Dié twee ken mekaar goed. Rennie was tussen 2017 en vroeër vanjaar die Glasgow Warriors in Skotland se afrigter, voordat hy die pos by die Aussies aanvaar het. Du Plessis het in 2018 as speler in Skotland aangekom en is verlede jaar as die Warriors se skrumafrigter aangestel, terwyl hy ook steeds gespeel het.

Dave Rennie en Petrus du Plessis is nie vreemdelinge vir mekaar nie. Foto: Getty Images
Die Warriors het die afgelope week in ’n verklaring aangekondig dat Du Plessis die klub reeds aan die einde van Julie verlaat het.
Rennie het nie Vrydag, toe hy die media te woord gestaan het, doekies omgedraai oor die hoë agting wat hy vir Du Plessis het nie.
“Hy is uitstekend, uitsonderlik, ’n gekwalifiseerde fisioterapeut en iemand wat onder meer betrokke is by strategie.
Du Plessis het die Engelse klubspan Saracens in meer as 150 wedstryde tussen 2009 en 2017 verteenwoordig, voordat hy by London Irish en daarna die Warriors ingeval het.
Dit blyk dat Rennie ook die Brumbies se afrigter, Dan McKellar, in sy visier het. Hy wil McKellar, wat nog tot aan die einde van 2021 by die Brumbies gekontrakteer is, as sy voorspeler-afrigter aanstel. Dit kan dalk selfs gebeur dat McKellar in die komende jaar op albei stoele sit.
Ons werk deur daardie proses, maar ek dink almal is bewus van die agting wat ek vir Dan, wat ’n uitstekende afrigter is, het.
Dave Rennie
“Ons werk deur daardie proses, maar ek dink almal is bewus van die agting wat ek vir Dan, wat ’n uitstekende afrigter is, het. Hy sal ’n aanwins wees,” sê Rennie.
• Dis natuurlik nie ’n nuutjie dat breiers met Suid-Afrikaanse wortels by van die voorste internasionale spanne betrokke is nie. Matt Proudfoot, wat deel van die Springbokke se afrigtingspan was tydens hul verowering van die Wêreldbeker in 2019, is tans ’n hulpafrigter by Engeland.
Die voormalige Franse toetsspeler Pieter de Villiers, ’n boorling van Malmesbury, het Skotland vroeër vanjaar as skrumkonsultant tydens die Sesnasies-reeks bygestaan. Hy het die Springbokke tevore ook in die rol bygestaan.
Vlok Cilliers is tans die Franse Hane se skopafrigter. – Reuters, Sportredaksie