Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Peyper: Blaser met vars brein werk beter

Elke rugbyondersteuner is eintlik maar ’n skeidsregter in wese, want almal weet mos altyd beter as die 31ste man op die veld.

Die groep skeidsregters aan die oefen in Bloemfontein.

Om in rugbywedstryde die fluitjie te dra, verg egter harde werk agter die skerms en daarom het die blasers op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se elite-paneel vandeesweek in Bloemfontein op ’n hoëprestasie-kamp gesweet.

Dit gaan nie net daaroor dat skeidsregters fiks is nie, hulle breine moet skerp wees om vir 80 minute die regte besluite te kan neem.

Om dít te help moontlik maak, is die eerste van twee kampe van Maandag tot Woensdag in die Rosestad gehou.

Saru se senior bestuurder van skeidsregters, Banks Yantolo, sê die kamp sal hulle ook ’n goeie aanduiding gee van enige skete wat die skeidsregters op die elite-paneel het en waaraan gewerk moet word voordat daar in Januarie weer volstoom begin gewerk word.

Die tweede van dié kampe word in Februarie weer in die Rosestad by die Vrystaatse Sportwetenskap-instituut gehou.

Jaco Peyper, Stuart Berry, Rasta Rashivenge, Quinton Immelman, Marius van der Westhuizen, AJ Jacobs, Egon Seconds en Aimee Barrett-Theron was die blasers by die kamp.

Mark Lawrence, ’n voormalige toetsskeidsregter en Saru se hoëprestasie-afrigter, is ook deel van die uitmergelende oefenkamp.

Net soos die rugbyspelers moet die skeidsregters ook fiks wees vir wedstryde.

“Ons kan nou ’n deeglike evaluering van die skeidsregters doen en as daar skete is, kan ons in die afseisoen behoorlik daarna kyk.

“In die eerste week van Februarie is ons terug in Bloemfontein om te sien waar die skeidsregters staan wat die evaluering wat ons nou gedoen het, betref,” sê Yantolo.

Die agt skeidsregters sweet behoorlik in die Vrystaatse son, maar tydens die kamp word daar ook heelwat werk in die raadsaal gedoen.

Peyper, een van Saru se mees senior skeidsregters, sê dit help nie ’n skeidsregter is fiks, maar blaas ’n wedstryd “dood” nie.

“Ons werk onder meer uit hoe om takties die regte besluite te kan neem. Verskillende scenario’s word deurgewerk, hoe om vars te wees en hoe om doeltreffender op die veld te wees.

“Dit gaan nie net daarom om fiks te wees nie, maar hoe om vinniger te beweeg. As jou brein vars is, dink jy beter,” sê Peyper.

Van links is Jaco Peyper, AJ Jacobs, Stuart Berry, Egon Seconds, Marius van der Westhuizen, Aimee Barrett-Theron, Rasta Rashivenge en Quinton Immelman hard aan die oefen.

Hy sê dit is in hedendaagse rugby belangrik om vir 80 minute goeie besluite te kan maak om ’n goeie produk daar te stel.

“ ’n Skeidsregter moet alles en oral op die veld kan sien, so ons soek na maniere hoe ons meer kan sien, hoe jy byvoorbeeld agteruit hardloop en sodoende uit die pad van die spel bly,” sê Peyper.

Hy sê daar is ook aandag aan die ontwikkeling van skeidsregters se geestesgesondheid gegee.

Die bekende Bloemfonteinse kopdokter Ruan Botha help hulle sodat hulle onder druk die regte besluite kan neem.

“Alles word gedoen om die spel te verbeter en vir die skeidsregters om ’n beter diens op die veld te kan lewer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.