Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Peyper volg in Kaplan-hul se voetspore

Suid-Afrika se Jaco Peyper word Saterdag slegs die vierde skeidsregter in die geskiedenis wat met 100 Superrugby-wedstryde kan spog.

Jaco Peyper sal Saterdag die 100ste keer in beheer van ’n Superrugby-wedstryd wees. Foto: Gallo Images

Hy blaas die fluitjie in die kragmeting tussen die Crusaders en die Brumbies in Christchurch.

Slegs Steve Walsh van Nieu-Seeland (111 wedstryde) en die Suid-Afrikaners Jonathan Kaplan (107) en Craig Joubert (103) het al hierdie mylpaal behaal.

Sy honderdtal sal nog ’n hoogtepunt in Peyper se loopbaan wees, wat verskynings in die Super-eindstryde van 2015 en 2017, asook 46 toetse insluit.

Wat toetse betref was sy keuse om die eerste toets in die reeks tussen die All Blacks en die Britse en Ierse Leeus in 2017 te beheer, een van die hoogtepunte.

In 2018 is Peyper vir die derde keer aangewys as Suid-Afrika se Skeidsregter van die Jaar en hy het ook in sy vierde Curriebeker-eindstryd diens gedoen.

“Ek wil Jaco graag gelukwens met hierdie mylpaal en dit is merkwaardig dat drie van die vier skeidsregters wat 100 wedstryde agter die blad het van Suid-Afrika is. Dit is iets om baie trots op te wees,” sê die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, Mark Alexander.

“Jaco is een van die voorste skeidsregters in die wêreld die laaste paar jaar en ons is bly om hom in ons midde te hê. Hy is ook ’n wonderlike ambassadeur vir Suid-Afrika en ons het sy loopbaan sien groei en van krag tot krag gaan.”

Dié 39-jarige fluitjiedraer van Bloemfontein het sy eersterangse debuut in 2008 gemaak in ’n wedstryd tussen die Valke en Boland. Sy eerste Super-wedstryd was in 2009.

“Ek is net so lief vir rugby en dankbaar dat ek die laaste tien jaar deel van Superrugby kon wees. Ek het baie wonderlike vriende gemaak,” sê Peyper.

“Dit gaan nie net oor hoe goed jy is as skeidsregter nie, maar jou ondersteuningsbasis. Ek was gelukkig om die steun van mense van wêreldgehalte te hê. Niemand egter meer as my vrou, dogters en hele familie nie. Ek wens my pa het steeds geleef om hierdie dag te kon ervaar. Hy sou so trots gewees het,” sê Peyper.

“Superrugby is uniek omdat dit veelsydigheid van ’n skeidsregter verg, van taai plaaslike derbies tot verskillende style wat in ander Sanzaar-lande gespeel word. Elke week is ’n groot uitdaging en jy moet die kragmeting verstaan waarin jy blaas. Ek geniet egter elke oomblik en streef daarna om eendag ’n perfekte wedstryd te kan hanteer.”

– Sportredaksie

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Skeidsregter  |  Superruby  |  Jaco Peyper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.