Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pienaar: Dís wat Varsitybeker ’n sukses maak
Dit smaak soos heuning! Sango Xamlashe, senter en kaptein van Tuks, neem Maandag ’n slukkie uit die Varsitybeker nadat sy span die Ikeys in die eindstryd verslaan het. Foto: Varsity Cup | Christiaan Kotzé

Vir die voormalige Springbok-kaptein Francois Pienaar is een van die bemoedigendste dinge van die Varsitybeker-rugbyreeks die onvoorspelbaarheid daarvan – iets wat veral in 2021 gesien is.

Toe die eerste skote in vanjaar se reeks vroeg in April geklap het, sou min mense ’n eindstryd tussen Tuks en die Ikeys voorsien het. Die Maties is immers ’n span wat die afgelope paar jaar sinoniem met die titel of minstens die eindstryd geword het.

Toe Tuks en die Ikeys mekaar Maandag in die eindstryd in die Jakarandastad pak, was dit die Pretorianers wat die trofee omhoog gehou het nadat die eindfluitjie geblaas het.

Niks dien as ’n beter voorbeeld van die onvoorspelbaarheid van die reeks as die kleine Ixias wat vanjaar die Maties én Tuks geklop het nie. Boonop het die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gelykop gespeel teen die Shimlas en naelskraap verloor teen Tuks (25-31) en Ikeys (55-58).

“Die Ixias wat Maties en Tukkies klop en hulle is nie in die halfeindronde nie, dit is malligheid. Dit is so lekker. Die sterre wat deurkom en die tipe spel wat gelewer word – dit is net vir my ’n riem onder die hart,” sê Pienaar aan Netwerk24.

“ ’n Kompetisie is nie ’n kompetisie as dit voorspelbaar is nie. Mens gaan nie kyk as hulle weet wie gaan wen nie, dan is daar geen belangstelling nie.

“Elke Maandagaand of wanneer ons ook al die Varsitybeker-wedstryde gespeel word, weet jy nie wie gaan wen nie.”

Francois Pienaar sê die onvoorspelbaarheid van die Varsitybeker-reeks is goed vir die reeks as produk. Foto: Gallo Images

Pienaar het bekendheid verwerf as kaptein van die Springbokke wat die Wêreldbeker-toernooi in 1995 op tuisbodem gewen het. Die afgelope paar jaar is hy die uitvoerende hoof van Asem, die bedryfsmaatskappy van die Varsitybeker-reeks. Destyds, meer as ’n dekade gelede, was Pienaar ’n stigterslid van die reeks.

Sedert die reeks die eerste keer in 2008 beslis is, het Maties (vyf keer), Tuks (vier keer), die Ikeys (twee keer), die Noordwes-Universiteit (een keer) en die Shimlas (een keer) die titel verower.

Tot so onlangs as ’n jaar of twee gelede sou mense gelag het vir die moontlikheid dat Ixias of UWK in die halfeind kan speel. Dit is immers spanne wat albei ’n paar jaar gelede nog in die Skildreeks, die tweede liga, gespeel het. Maar ná vanjaar se reeks is dit ’n geval van wánneer eerder as óf dié spanne in die toekoms die uitspeelrondes gaan haal.

Ten spyte van geen toeskouers wat vanjaar te midde van die Covid-19-pandemie by wedstryde toegelaat is nie, lyk dit nie asof opwinding en belangstelling in die reeks taan nie.

Pienaar meen een van die redes vir die reeks se sukses is omdat dit “kort en kragtig” is.

David Brits, die Maties se kaptein, probeer uit die hande van ’n speler van die Universiteit van Johannesburg te bly in die twee spanne se kragmeting. Foto: Gallo Images

“Dit is nie ’n lang kompetisie nie, dit is twee maande. En al die spanne speel ongelooflik lekker hardlooprugby. Die een wedstryd wat Ikeys gewen het (teen UWK), ek dink dit was 58-55, dit was 113 punte. Daardie wedstryd is eers in die laaste minuut bepaal,” sê Pienaar.

“Dit is groot tellings, maar dit is lekker hardlooprugby. Ek dink mense kyk dit omdat dit opwindend is en ’n kort en kragtige reeks is. Ons is al gevra om dit oor ’n dubbelronde te beslis, maar studente moet die res van die jaar studeer en deurkom.”

Die opkoms van spanne soos die Ixias en UWK beteken ook dat skolespelers wat wil studeer en rugby speel en nie vroeg reeds ’n provinsiale kontrak in die agtersak het nie, nie meer net universiteite soos dié in Stellenbosch, Pretoria of Potchefstroom hoef te oorweeg nie.

Sulke spelers weet nou dat hulle by van die sogenaamde kleiner spanne net sulke goeie blootstelling en ook goeie afrigting gaan kry.

Pienaar wys daarop dat die Varsitybeker-reeks aan meer spelers geleenthede bied – veral diegene wat nie in die “stelsel” is nie.

“Van die ouens ontwikkel laat. As jy nie in die stelsel is nie, dit wil sê in die Vrystaat- of WP-groep is nie, dan val jy weg. Daardie ouens kom nou by die universiteite aan en hulle kan lekker rugby speel.”

Meer oor:  Varsitybeker  |  Francois Pienaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.