Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pienaar loof Cheetahs se verdediging
Ruan Pienaar, skrumskakel en kaptein van die Vrystaat-Cheetahs, kon nie hier oorkom teen die WP nie, maar het in die tweede helfte wel een van sy span se vier drieë gedruk en uiteindelik 21 punte aangeteken. Foto: Gallo Images

“Briljant.”

Ruan Pienaar, kaptein van die Vrystaat-Cheetahs, het ’n gepaste beskrywing gegee van sy span se rotsvaste verdediging, wat die grondslag vir ’n welverdiende sege van 38-21 oor die Westelike Provinsie Woensdag in Bloemfontein gelê het.

Die Cheetahs het in die eerste helfte van die Curriebeker-rugbywedstryd soos tiere verdedig. Hulle het daarmee ’n kwaai aanslag van sowat ’n halfuur, waarin die besoekers knaend in hul kwartgebied geboer het, mooi te bowe gekom en toe op hul beurt skitterend aangeval.

“Ek het gedink ons verdediging was briljant vanaand. Die ouens het elkeen man vir man na vore getree,” het Pienaar agterna gesê.

Hulle het rêrig hard gewerk vir mekaar en ek dink as jy dit in ’n span regkry, dan het jy iets spesiaals aan die bou.
Ruan Pienaar

“Hulle het uitstekende rekenskap gegee. Hulle het rêrig hard gewerk vir mekaar en ek dink as jy dit in ’n span regkry, dan het jy iets spesiaals aan die bou. Kyk, ons is nog nie wêreldtemmers nie, ons besef daar is nog heelwat om aan te werk.”

Pienaar sê die baie strafskoppe wat hulle afgestaan het, onvermoë met tye om uit hul eie kwartgebied te kom en dan op die aanval ook nie af te rond nie, is van die dinge wat weer aangespreek sal word.

Hawies Fourie, hoofafrigter van die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Hawies Fourie, die Vrystaat se afrigter, was ook in sy noppies met die spelers se goeie lakwerk en oor hul spel in die algemeen.

“Dit was rêrig belangrik vir ons om ligapunte te kry. Veral met tuiswedstryde kan jy nie bekostig om dit nie te wen nie. Die nederlaag teen die Griekwas aan die begin van die reeks het ons ook onder druk geplaas,” sê Fourie.

“Die wyse waarop ons gespeel het en om toe drieë te druk van die omkeerbesit wat ons bewerkstellig het met ons verdediging, was regtig bevredigend. Ek haal my hoed af vir die ouens – dit was ’n goeie poging van almal.”

Fourie het onthul dat Rosko Specman oorweeg kan word vir Saterdag (14:30) se wedstryd teen die Haaie in Bloemfontein nadat hy uit die Springbok-kamp vrygestel is. Die span word Vrydag aangewys.

Fourie sê beseerdes soos die losvoorspeler Andisa Ntsila, skrumskakel Tian Meyer en veelsydige heelagter Craig Barry, wat almal dyspierbeserings het, sal eers ná hul komende loslootjie weer verkiesbaar wees.

Meer oor:  Ruan Pienaar  |  Hawies Fourie  |  Bloemfontein  |  Verdediging  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Cheetahs  |  Streeptruie  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.