Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pienaar, oud-Cheetahs oor kritiek

Keith Wood is geregtig op sy mening, sê Ruan Pienaar, kaptein van die Cheetahs en veteraan-Springbok-skrumskakel, nadat dié gewese kaptein en haker van Ierland gesê het Suid-Afrikaanse spanne is ’n vermorsing van tyd in die Pro14-reeks.

Keith Wood, oudkaptein van Ierland, sê die Cheetahs en Kings hoort nie in die Pro14-reeks nie. Foto: Getty Images

Wood (48), wat vir Munster in Ierland en Harlequins in Engeland gespeel het, het ook aan die webwerf offtheball.com gesê hy “hou nie” van die Pro14-reeks nie en soek ’n meer mededingende kompetisie tussen Britse en Ierse klubs.

“Dis nogal interessant, maar elke mens is geregtig op sy mening. Ek dink hy meen dalk dit is beter in terme van reis en wedstryde speel om dit uitsluitlik in die noorde te hou.

“As jy met baie van die Iere praat, kom jy agter hulle geniet die kompetisie en geniet dit om Suid-Afrika toe te kom en hier te speel en dieselfde geld ons,” sê Pienaar.

“Dis eintlik vir ons erger. Ons reis meer, terwyl hulle vir twee weke van die seisoen hierheen kom. Logisties gesproke is dit nie vir hulle so erg nie. Vir ons is dit ’n groot uitdaging. Ek dink ons het die laaste paar seisoene gewys ons is waardige teenstanders.

Die Pro14-reeks gaan oor meer as net rugby, dit gaan ook oor vriendskapsbande wat gesmee word. Hier word ’n erewag vir die Cheetah-kaptein, Ruan Pienaar, en sy spanmaats gevorm deur die Ulster-span met Pienaar se terugkeer na die Kingspan-stadion, jare nadat hy Ulster verlaat het. Foto: Galo Images

“Dis nooit net ’n maklike wedstryd teen ons nie en ek glo ons bring iets nuuts, iets anders na die kompetisie,” sê Pienaar.

“Diegene wat Pro14 kyk, en met wie ek al gepraat het, hou van die manier hoe ons probeer speel. Uiteraard kan ek niks oor die Kings sê nie, want ek weet nie hoe hulle dinge sien nie. Ek dink dis ’n goeie kompetisie en hopelik kan dit so voortgaan,” sê Pienaar voorts.

Francois Venter op die aanval vir die Worcester Warriors, net soos hy jare lank ook vir die Cheetahs gedoen het. Foto: Getty Images

Francois Venter, ’n voormalige kaptein van die Cheetahs en Springbok-senter, wat deesdae vir die Worcester Warriors in Engeland speel, sê hy verskil ook van Wood.

“Ek dink jy kan praat met enige van die spanne wat Bloemfontein en Port Elizabeth besoek. Hulle geniet dit om Suid-Afrika te sien. So ook ons spelers wat oorsee gaan toer, nie net op die veld nie, maar ook om ander kulture te ervaar.

“As jy gaan kyk na die Cheetahs se rekord in die Pro14-reeks in die eerste seisoen waarbyek betrokke was toe ons die uitspeelrondes gehaal het, het ons ’n paar spanne omgekrap. Vanjaar was dit weer die geval.

“Ek sien nie die punt wat hy (Wood) wil maak nie, want die Cheetahs was tog mededingend in elke wedstryd wat hulle gespeel het. Mettertyd gaan dit net nog beter raak, gee dit net tyd.

“Gaan kyk maar hoeveel keer die Superrugby-reeks al verander is en ek is nie seker of hulle dit al regkry nie,” sê Venter.

Nico Lee hou hier Keith Wood se ou span Munster besig op die aanval. Foto: Gallo Images

Die gewese Cheetah-senter Nico Lee kon nie vinnig genoeg vra hoekom Ierland se Pro14-spanne dan so graag Suid-Afrikaanse spelers kontrakteer nie.

Hy meen as Suid-Afrikaanse spelers goed genoeg vir hul spanne is, is hulle sweerlik goed genoeg om in die reeks te speel.

“Hy (Wood) moet ook verstaan dat al die Ierse en Britse spanne se begrotings baie groter is as dié van Suid-Afrika, so om so goed te vaar soos die veral die Cheetahs, wat boonop ook sukkel om spelers te behou, is nie maklik nie,” het Lee gesê uit Brive in Frankryk, waar hy deesdae sy rugby speel.

Meer oor:  Ruan Pienaar  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Nico Lee  |  Kings  |  Francois Venter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.