Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pierre-hulle lag lekker oor sy paal-truuk

Pierre Schoeman lag lekker oor die storm wat hy veroorsaak het deur met ’n voorafbeplande strategie ’n sponsbedekking by een van die pale op te lig toe Munster op Edinburgh se doellyn op die aanval was.

Schoeman het dit gedoen in ’n poging om Munster te verhoed om ’n drie te druk deur die bal teen die bedekking te plaas. Munster het uiteindelik gaan druk, maar Jack O’Donoghue, die kaptein, het die optrede steeds onder die Italiaanse skeidsregter, Marius Mitrea, se aandag gebring.

Wat maak jy daar, ou bul? Pierre Schoeman lig die sponsbedekking van een van die pale. Foto: Getty

Edinburgh het die Pro14-wedstryd met 18-16 gewen met die oud-Bul Schoeman se slenter wat agterna ’n groot besprekingspunt in die Skotse klubspan se eerste oorwinning sedert 2004 in Limerick was.

“Ons het dit eintlik geoefen – omdat die kussing verder is as die doellyn en jy nie onkant kan staan nie. So as jy net teen hom druk, is dit ’n drie,” het Schoeman gesê.

“Ons het geoefen as jy die kussing oplig en daar staan, is jy nie onkant nie. En dan kan jy die ou keer as hy teen die paal wil druk. Dit is uiteraard onveilig,” het Schoeman aan Rapport gesê.

“Jy kan op die video hoor hoe Arno (Botha) sê: ‘Druk teen die paal.’ Dis maklik – óf jy kry ’n drie óf jy kry ’n strafskop omdat die ouens onkant is.”

Johann van Graan, Munster se afrigter en ’n voormalige Springbok-hulpafrigter, was agterna onder die kritici wat Schoeman aangevat het en pleit dat skeidsregters strenger daarteen optree.

“Na my mening mag ’n speler nie aan die pale raak nie. Dit is vir veiligheid in die wedstryd. In ’n ander wedstryd was dit ’n geelkaart en ’n drie,” het Van Graan ná verlede Vrydag se wedstryd gesê.

Pierre Schoeman

“Ons moet die waardes van die spel behou. Ek gaan nie meer sê nie, maar veiligheid op die veld is ononderhandelbaar. Wat sou gebeur as iemand die paal tref en iets gebeur met hulle? Dis baie frustrerend.”

Schoeman en Van Graan het ná die wedstryd met mekaar gesels, maar nie die voorval aangeraak nie.

“Johann het ná die wedstryd lekker met my gepraat en gevra hoe dit met my vrou en familie gaan. Hy het niks daaroor gesê nie, maar toe sien ek later in die nuus hy’t iets daaroor gesê. Toe vat hy my ’n bietjie vas.

“Dit is nou eintlik meer snaaks as enigiets anders. Dis ’n bietjie van ’n grap. Ek sien mense is kwaad daaroor, maar mense hier lag daaroor.”

Schoeman se vorm is op die oomblik puik. Volgens Opta Stats is hy die voorste baldraer as stut in die reeks.

Hy het trouens die bal al 232 keer vanjaar gedra met geen ander stut wat dit meer as 160 keer gedoen het nie.

Hy het ook die meeste verdedigers geklop (24) en die tweede meeste duikslae (221) van enige stut in die kompetisie gemaak.

Edinburgh het om verstaanbare redes sy kontrak met nog 26 maande verleng. Dit verbeter sy kanse om in die toekoms toetsrugby vir Skotland te speel.

“Dis baie goeie nuus vir ons, maak nie saak of ek nou drie of vyf jaar moet wag om vir Skotland te speel nie. Ons gaan in elk geval vyf jaar hier wees.

“Ek is in die tweede jaar van my kontrak van drie jaar.

“Hulle het gesê hulle wil my vir nog twee jaar en twee maande teken. Ná vyf jaar kan ek burgerskap kry.”

Meer oor:  Pro14-Wedstryd  |  Pierre Schoeman  |  Munster  |  Edinburgh
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.