Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pieter-Steph: ‘Die pyn was ondraaglik’
Hy het gedog dis maar net nog ’n besering . . . toe kry hy die skok – én die pyn – van sy lewe. Die Bok-yster Pieter-Steph du Toit praat met Hendrik Cronjé oor die besering wat hom byna sy been gekos het. 

‘Ek kon die pyn nie meer verdra nie. Ek het net gewens iemand kan iets doen om my van my pyn te verlos.”

So vertel Du Toit oor die besering wat hy tydens verlede maand se Superrugby-wedstryd teen die Blues op Nuweland opgedoen het.

Pieter-Steph du Toit kyk van die kantlyn af toe hoe die Stormers streepsuiker teen die Blues kry. Hy was toe nog salig onbewus van die erns van sy beenbesering. Foto: Gallo Images

Die Stormers en Bokke se bielieflank sê nie eens ’n dosis sterk medikasie kon iets doen om die pyn te verlig nie.

Dis duidelik dat Du Toit, Wêreldrugby se Speler van die Jaar vir 2019, beplan om nog sterker terug te kom ná die besering.

“Dis sleg dat so iets moet gebeur om te rus. Ek sal nooit vir ’n besering wens net om te rus nie, want die pad wat jy moet stap om weer gesond en fiks te word is nie maklik nie,” sê hy.

“Maar ek sal ook nooit een van my beserings vir iets anders verruil nie, want ek het al so baie daaruit geleer. Dit het my die mens gemaak wat ek vandag is en ek is trots daarop.”

Die 27-jarige Du Toit vertel dat hy nie dadelik nadat hy die veld teen die Blues verlaat het die erns van sy besering besef het nie.

Hy was salig onbewus dat ’n hematoom in ’n akute kompartement-sindroom ontwikkel het. Vinnige mediese optrede is nodig om bloedvloei na die been te verseker, want daarsonder kan die beseerde sy been verloor.

“Ek het al in die verlede ’n soortgelyke besering aan dieselfde been gehad.

“So, toe ek weer voel my been swel so erg op, het ek eers gedink dis nie so erg nie en dit sal beter raak.”

Later het hy besef dis allesbehalwe die geval.

Met daardie ongelooflike pyn wou ek net gehad het iemand moes iets vir my doen om dit weg te vat.
Piete-Steph du Toit

“Toe ek by die hospitaal kom, het ek ongelooflik baie pyn ervaar. Ek kon die pyn nie verdra nie.

“Hulle het my op baie sterk medikasie gesit, maar dit het nie die pyn weggevat nie.

“Met daardie ongelooflike pyn wou ek net gehad het iemand moes iets vir my doen om dit weg te vat.”

Gelukkig vir Du Toit het die Stormers se mediese span flink gereageer. Hul spandokter, Jason Suter, het aan Netwerk24 gesê hulle het 15 minute nadat die Bokflank die veld verlaat het besef die risiko bestaan dat hy sy been kan verloor en hulle het hom gevolglik na die Vincent Pallotti-hospitaal in Pinelands, net ’n klipgooi van Nuweland af, gehaas.

“Die dokter het die Saterdagaand nog die been gesny,” sê Du Toit.

“Weens die swelling kon hulle nie die wond toemaak nie.

“Tydens die operasie het hy van die spiere se senuwees getoets. Dit het vir hom toe al gelyk of dit te laat was, want hy sê van die spiere het nie gereageer met die toetse nie.

“Toe het hy my die Maandag weer gesien en die wond weer probeer toemaak, maar hy was onsuksesvol. Hy vertel my toe later hy wou net gekyk het of die spier nie dalk beter geword het nie. Gelukkig het dit.

Jason Suter
Dr. Jason Suter

“Ek was in die hospitaal tot die Vrydag, waarna ek huis toe is. Hy het my die Donderdag weer geopereer, maar dié keer was ’n plastiese chirurg saam met hom om te help.

“Hulle was ook nie seker of hulle die wond gaan toekry nie. Toe hulle begin het en die wond sien, het hulle vir mekaar gesê hulle gaan dit nie toekry nie.

“Eers toe hulle begin werk, het hulle gesien dit gaan tog moontlik wees. En hulle het dit toegewerk.”

Netwerk24 het vroeër berig dat daar volgens Suter nog net 43 opgetekende gevalle in die mediese literatuur is van dié sindroom, wat Du Toit sowat drie maande op die kantlyn sal hou.

Volgens Suter is die beserings van Stormers-spelers soos Du Toit, Steven Kitshoff (geskeurde borsspier, vier maande), Bongi Mbonambi (afgeskeurde dyspier, vier tot vyf maande) en Herschel Jantjies (gebreekte been, drie maande) sonder uitsondering traumaties en kan dit nie aan kondisionering toegeskryf word nie.

Volgens hom kan niks gedoen word om dit te verhoed nie. Dis volgens hom ook nie weens ’n te hoë werklading nie.

Du Toit, wat al drie keer as SA Rugby se Speler van die Jaar aangewys is, ’n junior en ’n senior Wêreldbeker gewen het, Bok-kaptein was en ná rugby se skouspel in Japan as die wêreld se beste speler aangewys is, het reeds voorheen in sy loopbaan gewys hy weet hoe om ná ernstige beserings terug te veg.

Ná ’n aantal ernstige kniebeserings en verskeie operasies in 2014 en 2015 is gevrees dat dit die einde van sy loopbaan sou wees, maar hy het sterker en beter na die speelveld teruggekeer.

Selfs voor verlede jaar se Wêreldbeker moes hy ná ’n skouerbesering terugveg om sy kaartjie na Japan te bespreek.

“Ek kan nie anders as om baie dankie aan die dokters te sê nie, want hulle het ongelooflike werk gedoen,” sê Du Toit.

“Ek het twee dae gelede ’n e-pos ontvang van ’n jong seun wat ’n soortgelyke besering gehad het.

“Toe ek sien hoe erg sy been lyk, het ek net weer besef hoe dankbaar ek moet wees.”

Meer oor:  Besering  |  Bokke  |  Stormers  |  Springbokke  |  Pieter-Steph Du Toit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.