Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pieter-Steph vat pad; Bismarck soek SA span
Pieter-Steph du Toit se agent het bevestig dat hy later vanjaar vir Toyota Verblitz in Japan gaan speel. Foto: Gallo Images

Pieter-Steph du Toit gaan tot minstens in Mei 2022 vir Toyota Verblitz in Japan speel, maar Bismarck du Plessis hoop om ’n nuwe rugbytuiste in Suid-Afrika te vind.

Gerrie Swart, wat albei spelers se agent is, het dié nuus Woensdag aan Netwerk24 bevestig nadat Du Plessis se Franse klub, Montpellier, aangekondig het dat hy van sy kontrak vrygestel is.

“Pieter-Steph gaan die Stormers verlaat om in Japan te speel. Sy kontrak met die Westelike Provinsie verstryk op 31 Oktober en dan staan dit hom vry om elders te gaan speel,” sê Swart.

Wat ná Mei aanstaande jaar gaan gebeur, is nog onduidelik. Swart het wel genoem dat Du Toit gelukkig is by die Stormers. Die Du Toit-gesin besit ook die Kloovenburg-wynplaas, waar Pieter-Steph graag sy tyd weg van die rugbyveld deurbring. Dit sal dus nie verbaas indien die Kaap vorentoe weer sy plaaslike rugbytuiste is nie.

’n Voordeel van die skuif Verblitz toe, is wel dat hy onder die voormalige All Black-afrigter Steve Hansen sal speel, wat die tegniese aspekte van sy spel verder kan opskerp.

Vir watter Suid-Afrikaanse span gaan Bismarck du Plessis dalk voortaan die bal by die lynstaan ingooi? Foto: Getty Images

Wat Du Plessis betref, “oorweeg hy nog sy opsies”, sê Swart.

Die 37-jarige Du Plessis, wat deur baie kenners as die beste Suid-Afrikaanse haker in die geskiedenis van beroepsrugby gereken word, het goeie rugby vir Montpellier gespeel. Hy was in 2018 nog deel van die Bokke se planne, maar ’n besering het verhoed dat hy hom by die groep kon aansluit. Sedertdien het Malcolm Marx en Bongi Mbonambi goeie diens vir die Bokke gelewer.

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby en voormalige Bok-afrigter, asook Jacques Nienaber (Erasmus se opvolger by die Bokke) het gewys dat hulle nie bang is om strydrosse te betrek nie.

Die uitgetrede Bok-haker Schalk Brits was byvoorbeeld 38 jaar oud toe hy deel was van die seëvierende Wêreldbeker-veldtog in Japan.

Net so is die losskakel Morné Steyn, wat volgende maand 37 jaar oud word, pas ingesluit in die Bok-groep vir die reekse teen Georgië en die Britse en Ierse Leeus.

Dit is dus nie heeltemal vergesog dat Du Plessis weer in die Groen-en-Goud gesien sal word nie. Sy ervaring van 79 toetse kan ’n groot bate wees.

Du Plessis se skuif het ook niks met sy spelpeil te make nie. Montpellier, wat nou deur Philippe Saint-André afgerig word, is ná seisoene van oorsese breiers besig om ’n klemverskuiwing na ’n Franse kultuur te ondergaan. Die oud-Bok bevind hom by dieselfde klub as die Franse toetshaker Guilhem Guirado.

Bismarck wil baie graag in Suid-Afrika in rugby betrokke raak in ’n omgewing waar hy waarde kan toevoeg.
Gerrie Swart

“Bismarck wil baie graag in Suid-Afrika in rugby betrokke raak in ’n omgewing waar hy waarde kan toevoeg. Die begeerte om op die hoogste vlak moontlik te speel, brand steeds sterk in hom,” sê Swart.

“Hy wil graag weer die tradisie en goeie waardes van Suid-Afrikaanse rugby ervaar. Sy uitsonderlike werketiek is welbekend.”

Gegewe dat die Haaie en Stormers albei Bok-hakers in onderskeidelik Mbonambi en Scarra Ntubeni het, sal Du Plessis waarskynlik sy rugbytuiste by die Bulle, Cheetahs of Leeus moet vind. Hy is in Bethlehem in die Vrystaat gebore en was in Grey Kollege in Bloemfontein op skool, wat hom ’n aantreklike opsie vir die Cheetahs kan maak. In daardie geval sal Du Plessis wel daarmee vrede moet maak dat hy nie in die Pro16-reeks gaan speel nie.

Erasmus en Nienaber het egter met die keuse van spelers soos Frans Steyn en Rosko Specman in hul uitgebreide groep vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus gewys dat hulle nie Cheetahs-uitblinkers oor die hoof sal sien nie.

Meer oor:  Pieter-Steph Du Toit  |  Bismarck Du Plessis  |  Japan  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Europa  |  Verblitz  |  Kontrak  |  Terugkeer  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.