Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pieter-Steph neem dalk Eben se 4-trui oor

Die Springbokke sal Saterdag in Parys meer senior manne in die agterlyn hê, maar in die agttal sal hulle na verwagting sonder die ervare slot Eben Etzebeth wees wanneer hul teen Frankryk te staan kom.

Pieter-Steph du Toit kan hom dalk Saterdag teen Frankryk in die Bokke se nr. 4-trui bevind. Foto: Gallo Images

Agterlangs behoort Willie le Roux en Faf de Klerk by onderskeidelik Damian Willemse en Ivan van Zyl oor te vat. In die pak sal Franco Mostert, wat ook weer kan speel nadat hy verlede week by sy nuwe rugbytuiste, Gloucester, aangemeld het, Etzebeth se leemte vul.

Die vraag is wie Mostert se slotmaat sal wees: Pieter-Steph du Toit of RG Snyman?

Lood de Jager, wat teen Engeland sy eerste wedstryd in ses maande gespeel het ná hy van ’n langtermyn-besering herstel het, is nog nie ’n oorweging vir die beginspan nie.

Die kans is groot dat Du Toit Etzebeth se nr. 4-trui kan kry.

Dit sal beteken dat die lostrio wat op Twickenham teen die Rose gespeel het, Warren Whiteley, Duane Vermeulen en die kaptein, Siya Kolisi, behou sal word.

Rassie Erasmus, die Bokke se hoofafrigter, sou ook die week daaroor besin het om Du Toit weer ’n flank te maak, maar dit sou beteken dat Whiteley in die slag bly.

Erasmus het verlede week in Londen aangedui hy wil, sonder om kontinuïteit in te boet, soveel moontlik spelers in die toergroep speelkans gee.

Francois Louw, Vincent Koch en Cheslin Kolbe, wat almal ook nie teen Engeland kon speel nie, behoort van die nuwe gesigte onder die plaasvervangers te wees.

Met De Klerk weer op sy pos, kan die Bulle-skrumskakel Ivan van Zyl sy plek in die 23-tal kwyt wees.

Erasmus het ná die toets op Twickenham gesê Van Zyl het die toets geslaag en hy sal in die volgende twee toetse teen Skotland en Wallis weer ontplooi word.

Met De Klerk wat Sondag by die span aangesluit het nadat daar onsekerheid was oor sy deelname op die jaareindtoer, is daar nou vier skrumskakels in die groep.

Die Haaie se Curriebeker-kaptein, Louis Schreuder, wat een van die verrassings was toe Erasmus sy groep vir die toer aangewys het, sal ook hoop om iewers ’n tweede toets vir Suid-Afrika te speel.

Die Bokke se moontlike beginspan:

Willie le Roux, S’bu Nkosi, Jesse Kriel, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Warren Whiteley, Duane Vermeulen, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Pieter-Steph du Toit, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff.


Meer oor:  Parys  |  Frankryk  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Hane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.