Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Pieter-Steph nou beter as in 2016’

Veral een Engelse speler sou glimlag toe hy sien Rassie Erasmus het vir Pieter-Steph du Toit op steelkantflank in sy Springbok-span vir Saterdag se tweede toets in Bloemfontein gekies.

Die Engelse skrumskakel Ben Youngs het seker ’n oomblik geneem om terug te dink aan dié lande se toets in November 2016 op Twickenham.

Pieter-Steph du Toit oefen vandeesweek saam met sy Bok-spanmaats in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

In daardie toets het Youngs vir Du Toit, wat in die Bokke se nr. 7-trui gespeel het, twee keer rondom die afbreekpunte geklop om onderskeidelik drieë vir sy losskakel, George Ford, en binnesenter, Owen Farrell, te skep. Engeland het dié toets met 37-21 gewen.

Dié drie Rose vorm Saterdag weer die spil van die Engelse aanval, terwyl Du Toit saam met die vaskopstut, Frans Malherbe, die twee nuwe spelers in die Bok-beginspan is.

Erasmus glo nie Du Toit sal noodwendig weer só rondom die afbreekpunte geklop word nie.

“Ek glo Pieter-Steph het gegroei sedert 2016,” het Erasmus Donderdag by sy spanaankondiging in Bloemfontein gesê.

“Ons weet Ben Youngs is daardie tipe ou wat moeilik is om te keer rondom die losskrums, ongeag van wie jy is.

“Dit sal ’n uitdaging wees, nie net aan Pieter-Steph se kant nie, maar aan Siya (Kolisi, die kaptein en ander flank) s’n.

“Pieter-Steph was verlede week ook naby aan die beginspan. Dit sal help noudat hy ook kapteinskapservaring teen Wallis opgedoen het.”

Du Toit vervang vir Jean-Luc du Preez in die beginspan, met Du Preez wat op die plaasvervangersbank gaan sit. Du Toit sal dus slot toe skuif as daar ’n besering is.

Erasmus sê die Bokke is gelukkig om ’n veelsydige speler soos Du Toit in die groep te hê.

“Ek dink nie dis altyd nodig om iemand as ’n spesialis in ’n sekere posisie te brandmerk nie. Pieter-Steph is goed op slot en flank en ons sal hom in albei posisies aanwend.”

Die kans is dus goed dat Du Toit die volle 80 minute sal speel – veral as ’n slot seerkry. Die ander nuweling in die span, Malherbe, gaan beslis nie die hele toets speel nie.

“Frans was ’n paar maande terug die voorkeur-vaskopstut voor sy nekbesering. Hy is nou weer fiks, so hy kry sy kans terwyl Wilco vandeesweek ’n blaaskans gegun word nadat hy ontsettend baie rugby gespeel het die laaste paar maande.

“Frans sal beslis nie 80 minute op toetsvlak hou nie, dit kan ek julle belowe. Tog het hy meer wedstrydtyd in die Superrugby-reeks as ’n ou soos Bongi (Mbonambi, die haker) gehad. Frans sal waarskynlik net 40 minute speel.”

Pieter-Steph du Toit in 2016 teen Engeland in aksie. Foto: Getty Images

Malherbe sal ná rustyd deur Thomas du Toit vervang word.

“Ons probeer om van Thomas ’n vaskop van wêreldgehalte te maak. Die volgende stap vir hom is om stadig in ’n toets-vaskopstut omskep te word, sodat hy nie van die begin van ’n wedstryd af al daardie druk hoef te trotseer nie.”

Die enigste ander verandering in die 23-tal, wat die eerste toets op Ellispark met 42-39 gewen het, is die insluiting van Jesse Kriel op die plaasvervangersbank in die plek van Elton Jantjies.

“Toe die toets verlede week ’n bietjie oopgemaak het, het ons vaart nodig gehad. Dit is waarom Jesse nou ’n kans kry,” sê Erasmus.

Willie le Roux en Faf de Klerk sal dekking op losskakel bied indien Handré Pollard ’n besering opdoen.

Die breier sê ook die versoeking was daar om die ervare haker Schalk Brits by die 23-tal in te sluit, maar hy wou graag vir Mbonambi en Akker van der Merwe vir hul goeie vertonings in die eerste toets beloon.

“Ons sal hom beslis in die toekoms gebruik, hy het nou nie meer heeltemal uitgetree uit rugby nie.”

Die Bok-span vir Saterdag se toets:
Willie le Roux, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, RG Snyman, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Beast Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Akker van der Merwe, Steven Kitshoff, Thomas du Toit, Jean-Luc du Preez, Sikhumbuzo Notshe, Ivan van Zyl, Jesse Kriel, Warrick Gelant.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.