Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pieter-Steph: ‘Duikslae is nogal pynlik’

Daar is sekerlik deesdae min mense wat nog dink Pieter-Steph du Toit hoort nie op flank in die Springbokspan nie.

Pieter-Steph du Toit was nie net op die verdediging woelig teen die Wallabies in die Baai nie, hy het die bal ook met mening gedra. Foto: Gallo Images

Nie so lank gelede nie is die witkop erg gekritiseer omdat hy kwansuis te stadig vir ’n losvoorspeler is.

Hy het ook foute op die verdediging begaan wat hom onder die kritici se tonge laat deurloop het.

Ná sy verstommende duikvertonings twee weke gelede teen die All Blacks en Saterdag teen die Wallabies in Port Elizabeth, is Du Toit egter byna ’n volksheld.

“Mense besef nie ons (die Bokke) het in ’n stadium vier verdedigingsafrigters in een seisoen gehad nie,” sê Du Toit.

“Dit maak ’n groot verskil. Dis nie maklik om vinnig by elkeen se planne aan te pas nie.”

Du Toit breek ’n lansie vir die Bokke se huidige verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber.

“Jacques is ’n uitstekende verdedigingsafrigter en ek leer baie by hom. Veral oor my duiktegniek.

Du Toit is teen die Wallabies in Port Elizabeth as die Speler van die Wedstryd aangewys. Foto: Gallo Images

“Die reëls het so verander dat jy nie meer iemand kan hoogvat nie. Dis iets waaraan ons almal hard werk om te verbeter.”

Teen die Wallabies het Du Toit weer met mening onder die besoekers ingeklim.

“Ons probeer om meer fisiek in ons duikslae te wees. Ons wil hê ons teenstanders moet ons duikslae vrees.”

Die Bokke het altesame 144 duikslae teen die Wallabies uitgevoer, waarvan 19 deur Du Toit ingesit is.

Raak hy dan nie moeg nie?

“Dis nogal pynlik,” gee hy toe.

Maar hy kan homself eenvoudig nie keer nie. As hy ’n teenstander met die bal in die hande sien, wil hy hom laat gras vreet.

Volgens die groot losvoorspeler het die Bokke heelwat selfvertroue gekry danksy hul twee agtereenvolgende oorwinnings.

“Ons weet egter hoe vinnig dinge weer kan verander. Nou is dit ons en die All Blacks in Pretoria. Ons weet ons kry na daardie toets ’n blaaskans, so ek glo ons intensiteit sal reg wees.”

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies  |  Pieter-Steph Du Toit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.